Offbeat
Weird Wide Web: Miniatuur-robot kan van vorm verander─── 15:18 Mon, 30 Jan 2023
’n Robot die grootte van 'n millimeter, gemaak van ’n mengsel van vloeibare metaal en mikroskopiese klein stukkies magnete, kan sy vorm verander deur te rek en te smelt.
Volgens NewScientist.com, kan dié miniatuur, vormveranderende robot homself vloeibaar maak en hervorm, wat dit toelaat om take op moeilik-toeganklike plekke uit te voer. Daar word voorsien dat dit in die toekoms as 'n handvrye soldeermasjien gebruik kan word, of om gevaarlike voorwerpe wat ingesluk is, uit 'n mens se liggaam te onttrek.
Robotte wat sag en smeebaar genoeg is om in nou, delikate ruimtes soos dié in die menslike liggaam te werk, bestaan reeds, maar hulle kan hulself nie stewiger en sterker maak wanneer onder druk of wanneer hulle iets swaarder as hulleself moet dra nie.
Carmel Majidi van die Carnegie Mellon-Universiteit in Pennsilvanië en sy kollegas het 'n robot geskep wat nie net van vorm kan verander nie, maar ook sterker of swakker kan word deur tussen 'n vloeistof en 'n vaste stof te verwissel.

Hulle het die millimeter-grootte robot gemaak van 'n mengsel van die vloeibare metaal gallium en mikroskopiese stukkies van 'n magnetiese materiaal gemaak van neodymium, yster en boor.
Wanneer dit solied is, is die materiaal sterk genoeg om 'n voorwerp 30 keer sy eie massa te ondersteun. Om dit sag te maak, te rek, te beweeg of in 'n kruipende plas te laat smelt soos nodig vir verskillende take, het die navorsers dit naby magnete geplaas. Die magnete se pasgemaakte magnetiese velde het kragte op die klein magnetiese stukkies in die robot uitgeoefen, dit beweeg en die omliggende metaal in verskillende rigtings vervorm.
Lees ook: Weird Wide Web: Resensent se TikTok-towerstaf red restaurant
Die span het byvoorbeeld 'n robot gestrek deur 'n magnetiese veld toe te pas wat hierdie korrels in verskeie rigtings getrek het. Die navorsers het ook 'n sterker veld gebruik om die deeltjies opwaarts te ruk, wat die robot laat spring het. Toe Majidi en sy kollegas 'n afwisselende magnetiese veld gebruik het - een waarvan die vorm voorspelbaar met verloop van tyd verander - het elektrone in die robot se vloeibare metaal elektriese strome gevorm. Die verloop van hierdie strome deur die robot se liggaam het dit verhit en uiteindelik laat smelt. Lees meer hier.
