On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Offbeat

Weird Wide Web – Só kom Barbie tot Nasa se redding

───   15:13 Wed, 15 Mar 2023

Weird Wide Web – Só kom Barbie tot Nasa se redding | News Article
Barbie was al in 1965 'n ruimtereisiger, jare vóór Neil Amstrong. FOTO: ripleys.com/weird-news/barbie-moondust/

Neil Armstrong het dalk een klein treetjie vir die mensdom op 20 Julie 1969 geneem. Maar vier jaar vóór Apollo 11, het Barbie reeds 'n volledige ruimtepakkie besit en ruimteverkenning onderneem nog voordat dit ‘n ding was.

Barbie, wat al bykans alle soorte werke onder die son op haar CV kan aanteken, van rekenaaringenieur tot rock-ster en alles tussenin, het onlangs weer haar ruimtepakkie aangetrek om met ‘n belangrike ruimtereis-eksperiment te help.

Die skoonheid is met nagemaakte maanstof (eintlik die as van ‘n vulkaniese uitbarsting) bestrooi en met vloeibare stikstof bespuit, waarna die resultate gemeet is.

Wat was die bevinding? Wetenskaplikes het gerapporteer dat vloeibare stikstof ongeveer 98% van die “maanstof" van haar ruimtepak verwyder het.

Hoekom soveel kommer oor maanstof op ruimtepakke? Maanstof is giftig vir menslike selle en kan aanleiding gee tot wat bekend staan as "maanhooikoors".

Foto: ripleys.com/weird-news/barbie-moondust

Die simptome is nies, ‘n seer keel en waterige oë – iets waarmee jy beslis nie tydens ‘n reis deur die sterrestelsel gekonfronteer wil word nie.

Die impak van maanstof eindig nie daar nie. Ian Wells van die Washington State-universiteit (WSU) verduidelik dat "maanstof grof, elektrostaties gelaai is en orals ingaan".

Behalwe dat dit 'n oorlas is, hou dit ernstige gevare in omdat dit kan veroorsaak dat ruimtepakke nie behoorlik seël nie. En asof dit nie genoeg is nie, saai dit ook verwoesting in menslike longe.

LEES OOK: Weird Wide Web – Geen sjefs by dié restaurant, net oumas!

Apollo-ruimtevaarders wat toentertyd aan maanwandelings deelgeneem het, het hulself afgeborsel voordat hulle hul pakke uitgetrek het. Maar om die taai, elektrostaties gelaaide stof van jou af te kry, is soos om 'n boks met grondboontjies te probeer skoonmaak. Die borsels beskadig ook mettertyd die ruimtepakke. Danksy Barbie is daar bewys dat daar 'n beter manier is: vloeibare stikstof.

Om met vloeibare stikstof bespuit te word, sit nou nie in elkeen se broek nie, maar gelukkig is Barbie geen gewone dame nie.

Jacob Leachman van WSU beskryf dit so: "Wanneer vloeibare stikstof kook, sit dit 800 keer uit en is dit amper soos 'n klein ontploffing wanneer dit die oppervlak van 'n warm materiaal tref. Omdat dit so ontplof en uitbrei, kan dit maanstofdeeltjies ver van die oppervlak af wegstoot.”

Ondanks die plofbare aard van vloeibare stikstof het die ikoniese Barbie so koel soos ‘n komkommer deur die vloeistof-eksperiment geseil. Haar Kevlar-pak het ook minimale skade getoon, 'n groot verbetering sedert die ou stofborselmetode. Met ander woorde, die skoonmaak van maanstof van ruimtepakke is nou net soveel makliker.

Hoekom is Barbie vir die eksperiment gekies? Danksy haar stylvolle langslewendheid, haar nuwe fliek (met Margot Robbie in die hoofrol) en baanbrekende beroepskeuses, bly Barbie 'n kragtige ikoon, simbolies van wat Nasa met sy Artemis-sendings wil bereik, naamlik om die eerste vrou en eerste persoon van kleur op die maan te laat land.

Lees  meer hier: https://www.ripleys.com/weird-news/barbie-moondust/

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.