Offbeat
Weird Wide Web – Tiener oorkom tragedie danksy liefde vir boeke─── 15:32 Fri, 31 Mar 2023
Emily Bhatnagar van Maryland in die VSA het haar as kind na boeke gewend as sy eensaam gevoel het, wat dikwels was. "Hulle het my geselskap gehou en my minder eensaam laat voel.”
Nou as 19-jarige sê Emily boeke is steeds 'n bron van vertroosting, maar met ‘n groter doel. Sedert 2019 het sy al meer as 15 000 boeke geskenk aan kinders wat kankerbehandeling ondergaan danksy haar boekeprojek, For Love and Buttercup.
"Ek het gedink oor hoe botterblomme alles suiwer en onskuldig en gelukkig in die wêreld verteenwoordig," sê sy. "Dit is presies hoe ek wil hê hierdie kinders wat chemobehandeling ondergaan, moet voel.”
Dit het alles begin toe haar pa, Mike Bhatnagar, in 2019 met gevorderde skildklierkanker gediagnoseer is.
Emily het ‘n skooljaar afgeneem om hom te help versorg, terwyl sy self met haar eie angs, depressie en 'n eetversteuring geworstel het, wat haar verlore en leeg laat voel het.
Dit het haar laat dink aan die duisende kinders in haar pa se skoene, wat ook 'n kankerdiagnose in die gesig staar.
"Ek het gedink, daar is 'n kind daar buite wat dieselfde of 'n soortgelyke stryd as my pa voer. “Stel jou voor jy is jonk en verstaan nie alles waardeur jy gaan nie. Dink net hoe vreesaanjaend dit is.”
Lees ook: Weird Wide Web – Vind só uit hoe dit voel om dood te gaan
Omdat boeke haar altyd gelukkig as kind gemaak het, het sy besluit om boeke vir pediatriese kankerpasiënte in te samel om ook vreugde in hul lewens te bring.
Sy het in die buurt rondgevra vir skenkings van gebruikte boeke vir kinders van alle ouderdomme.
"Ek het so 'n groot reaksie gekry," sê sy. Sy en haar 21-jarige broer het saam rondgery en boeke opgelaai.
Amper twee jaar later het Emily reeds sowat 15 000 boeke ingesamel en aan verskeie plaaslike hospitale geskenk.
In Januarie 2021 het sy ook boeke aan MedStar Georgetown Universiteit geskenk, waar haar pa vir kanker behandel is. "Volsirkel, dit is wat dit is," sê sy.
Sy hoop om Love and Buttercup as ‘n organisasie sonder winsbejag te registreer sodat ander hospitale buite die Maryland-distrik ook daaruit voordeel kan trek.
Sy het selfs 'n helpende hand van die man wat alles begin het – haar pa. Hy is nou kankervry en ry haar deesdae rond om bokse boeke by hospitale af te laai.
Hy sê hy het nooit die uitstorting van ondersteuning wat sy ontvang het, verwag nie. “Ek het nog nooit sulke warmte en vriendelikheid van mense gesien soos gedurende die afgelope paar maande met Emily se boekeprojek nie. Ek het geleer mense het 'n groot vermoë om liefde aan ander te betoon."
Lees meer hier: https://www.today.com/popculture/books/book-drive-pediatric-cancer-emily-bhatnagar-rcna75335
