Offbeat
Weird Wide Web - Vrou se liefdadigheidstuin met sout vernietig─── 15:12 Fri, 14 Apr 2023

’n Britse vrou is hewig ontsteld nadat vandale haar tuin verwoes het, wat sy geskep het om arm mense kos te gee.
Carly Burd van Harlow, Engeland, het op 12 April in ’n emosionele TikTok-video gesê vandale het oornag sout oor al haar plante gegooi.
‘’Sout is dodelik vir plante, wat beteken alles wat ek geplant het, sal nie groei nie,” sê sy.
“Dit was ure en ure se harde werk en nou is alles dood.”
Burd het haar eie tuin omskep om haar liefdadigheidsprojek, A Meal on Me With Love, te begin.
Sy het organiese vrugte en groente gekweek wat sy dan aan behoeftige mense verskaf het. Sy kry ook kos van winkels wat andersins weggegooi sou word. In haar TikTok-video sê sy dat sy reeds 1 613 mense deur die projek kos gegee het.
Burd het veelvuldige sklerose en lupus en haar eie uitdagings het haar geïnspireer om ander te help. Sy sê sy weet nie wie so laag gedaal het om haar tuin te verwoes nie, maar dit moet ’n kenner wees wat weet hoe gevaarlik sout vir plante is. Minstens 5 kg sout is oor haar plante uitgegooi.
Lees ook: Cool Kids - Anri Reyneke: "Alles gebeur wanneer die tyd reg is"
Maar alles is nie net hartseer nie. Ondersteuning het vir Burd ingestroom sedert sy haar video oor die vandalisme geplaas het. Op die liefdadigheidsorganisasie se GoFundMe-blad is sedert Dinsdagoggend £194 000 geskenk. Burd het die GoFundMe-bladsy in September begin met die doelwit om £4 000 in te samel.
Op Twitter het iemand uitgevaar teenoor die vandale: “Weet jy hoe boos jy moet wees om snags uit te sluip, nie om te steel om jouself te bevoordeel nie, maar om te keer dat ander mense in nood hulp kry?”
In haar jongste TikTok-video het Burd haar ondersteuners bedank en gesê sy is “absoluut oorweldig” deur almal se opmerkings en skenkings.
Sy en vrywilligers het daarin geslaag om baie van die tuin op te grawe, en hoop om die sout te neutraliseer deur dit met bogrond te bedek.
Lees meer hier: https://www.today.com/food/news/woman-grows-food-for-people-in-need-garden-vandalized-rcna79525