Offbeat
Weird Wide Web - Gebruikte doeke kry boustatus─── 15:08 Wed, 07 Jun 2023
Om in 'n huis te woon wat van gebruikte doeke gemaak is, klink dalk nie baie lekker nie, maar dit kan goed wees vir die aarde.
Volgens engoo.com, het navorsers van die Universiteit van Kitakyushu in Japan na maniere gekyk om huise te bou deur herwinde materiaal te gebruik. Wêreldwyd word jaarliks 50 miljard metrieke ton sand gebruik vir sementgeboue. Hulle het toe begin wonder of die sand nie met doeke vervang kan word nie.
In 2017 is in ’n Euromonitor-verslag bevind meer as 300 000 doeke word elke minuut weggegooi. Doeke wat net een keer gebruik word kan nie herwin word nie en word verbrand of beland op ’n stortingsterrein.
In Indonesië, waar die navorsing gedoen is, word jaarliks ses miljard doeke vervaardig wat net een keer gebruik kan word. In dié land is daar die bygeloof dat as ’n baba se doek verbrand word is dit pynlik vir die baba. Dit word dus net weggegooi in riviere en in die see. Vir die navorsing is die gebruikte doeke gewas, gedroog en versnipper.
Ses soorte beton is gemaak met verskillende hoeveelheid van die doeke daarin. Daar is bevind dat tot 10% van die sand met versnipperde doeke vervang kan word en die beton is steeds sterk genoeg om ’n drieverdiepinggebou te bou. 40% kan vervang word vir beton wat net mooi moet lyk.
Hulle het ook ’n klein huisie van 36 vierkante meter gebou. Vir hierdie huisie is 8% sand met doeke vervang, wat beteken 1,7 kubieke meter gebruikte doeke is herwin.
Lees meer hier: https://engoo.com/app/daily-news/article/researchers-build-house-from-used-diapers/lVHDiv48Ee2O9R9A1QN_Fw
