Offbeat
Welkom terug by die era van ‘dom fone’─── 15:13 Fri, 23 Jun 2023
Met die wêreld wat behep is om die nuutste slimfoon te kry, kom dit as 'n vreemde verrassing dat baie tieners eerder ’n "dom foon" wil hê.
Tieners begin al meer belangstel in basiese selfone sodat hulle minder afhanklik van tegnologie kan wees. In Amerika het die verkope van selfone met basiese funksies soos oproepe en teksboodskappe in 2022 vir HMD Global, die vervaardiger van Nokia, baie geld in die sak gebring omdat duisende van die selfone elke maand verkoop is.
“Ons markaandeel vir selfone wat kan oopvou het met 5% gestyg,” sê Lars Silberbauer, bemarkingshoof van Nokia Phones en HMD Global.
"Ons sien die tendens kom nou ook in Europa voor,” het hy aan Euronews Next gesê.
"Ek dink die neiging is omdat selfoongebruikers beheer oor hul eie digitale lewe wil neem."
So wat is 'n 'dom foon'?
Dit bied ’n eenvoudiger en minder verslawende gebruikerservaring as slimfone en fokus op die maak van oproepe en om SMS'e te stuur. Hulle skakel dus die versoekings uit om op sosialemediaplatforms te kuier.
Real Research het in ’n peiling waaraan 40 000 mense deelgeneem het, bevind dat 50% van die tieners meer as sewe uur per dag op sosiale media is.
Lees ook: Principle of NHI Bill is the right one for South Africa
Dit het ’n nadelige uitwerking op ons geestestoestand. Verskeie studies toon dat die lang tye op sosiale media moontlik verband kan hou met ADHD-simptome, depressie, angs en ’n gebrek aan slaap. Silberbauer sê tieners begin besef wat die invloed van tegnologie op hul eie geestesgesondheid is.
"Ons navorsing toon tieners al meer neig na die sogenaamde dom fone sodat hulle weg kan kom van sosiale media. Ek het al self daarmee begin om naweke nie my slimfoon te gebruik nie,” sê Silberbauer.
José Briones, kampvegter vir die gebruik van “dom fone”, sê die jonger generasie is moeg vir skermverslawing. Hy moedig almal aan om eenvoudiger te lewe.
