Offbeat
Weird Wide Web - Te koop: Missiel-silo vir die oordeelsdag─── 15:16 Mon, 28 Aug 2023
Wil jy graag ’n opgeknapte missiel-silo koop om in te bly? In die Amerikaanse deelstaat Nebraska kan jy een koop vir net $750 000.
Die YouTube-ster Andrew Flair het in 2022 die Atlas-F Missile Silo van sowat 2 500 vierkante voet gekoop. Ingenieurs van die Amerikaanse weermag het in die 1950’s die Atlas-F Missile Silo gebou as teenvoeter vir kernmissielwapens van die Sowjetunie. Flair het byna drie miljoen intekenare op YouTube en plaas graag video's oor visvang, jag en ander buitemuurse aktiwiteite. Hy het aan The National Desk gesê: “Ek het grappenderwys vir my eiendomsagent ’n boodskap gestuur en gesê ons moet hierna gaan kyk en video’s maak want dit sal lekker wees om so ’n plek te besit.”
Dié grap het ’n werklikheid geword. Flair het wel besef dit sou baie werk verg om dit te omskep in ’n leefbare ondergrondse bomskuiling. Banke en versekeringsmaatskappye was aanvanklik nie te vinde vir sy projek nie. Hy het ook nie gehuiwer om te vertel dat daar ’n liggaam uit die 1990’s daarin versteek is nie, maar wetstoepassers kon niks vind nie omdat dit vol rommel was.
Lees ook: What's on The Menu – Mielies met parmesaan en knoffel
Flair het aan Fox 11 News gesê dit het ’n bietjie kreatiwiteit geverg, want die silo het 'n ander vorm as die gemiddelde huis. Dit het hom en sy span 45 dae geneem om dit op te knap. Hulle het dit behoorlik skoongemaak en ’n badkamer en volledige kombuis ingebou. Hy het dit die ondergrondse huis gedoop. Eiendomsagente beskryf die silo as ’n stukkie militêre geskiedenis van die Koue Oorlog wat gebruik kan word as ’n toevlugsoord vir oorlewing of net vir ’n naweekverblyf. Daar is elektrisiteit, warm en koue lopende water en die jaarlikse belasting beloop $432.
Glo dit of nie, daar is reeds kopers wat daarin belangstel. Die verkoopsaanbod het saamgeval met die uitreiking van die rolprent Oppenheimer wat geregisseer is deur Christopher Nolan. Die hoofrolle word vertolk deur Cillian Murphy, Emily Blunt en Matt Damon en fokus op die teoretiese fisikus J. Robert Oppenheimer se rol in die ontwikkeling van die atoombom.
