Offbeat
Weird Wide Web - Ontmoet Ierland se liefdesmakelaar─── 15:20 Wed, 20 Sep 2023
“Liefde is daar vir almal en wag net om gevind te word."
Willie Daly (80) beskou homself as Ierland se laaste tradisionele liefdesmakelaar. Elke September woon duisende enkellopendes sy Pasmaatsfees in Lisdoonvarna by.
Hy bring al meer as 50 jaar pasmaats bymekaar. Sy pa en oupa het dit ook voorheen gedoen. Hy spog dat hy 3 000 mense in sy leeftyd bymekaar gebring het. En, dit sonder om op ’n selfoonskerm links of regs te moet kies. Sy sukses is glo danksy ’n 160 jaar oue “gelukkige liefde pasmaatboek.”
Op sy webtuiste word beweer jy sal binne ses maande verlief raak. Al wat jy moet doen is om aan die boek met jou een hand te raak en vir sewe sekondes met toe oë aan die liefde te dink.
Daly glo nie aan aanlyn pasmaats nie omdat dit nie ’n warm en vriendelike proses is nie. In plaas daarvan werk hy tydens die Pasmaatsfees in sy “kantoor” in die Matchmaker Bar in Lisdoonvarna. Die fees is die grootste fees vir enkellopendes in Europa.
Lees ook: Weird Wide Web - Boerpotwenners se hond beïnvloed hul motorkeuse
Die hele maand bied die dorp se kroeë geleenthede aan met tradisionele Ierse musiek en dans. Enkellopendes van 18 tot 80 jaar kan dan so kuier in die hoop om hul perfekte pasmaat te vind. Die World Matchmaking Festival vind einde September in Donegal plaas,
Volgens The Irish Times het elke dorp in Ierland jare gelede hul eie liefdesmakelaar gehad.
Dit was natuurlik lank voor Bumble, Tinder of blitsafsprake. “Liefde is daar vir almal en wag net om gevind te word,” sê Daly op sy webtuiste.
