Offbeat
Weird Wide Web – Oppas vir skermapnee!─── 15:12 Thu, 21 Sep 2023
“Ons asemhaling word dikwels vlakker en ons hartklop stadiger om ons in staat te stel om te fokus – dit is ons liggaam se manier om ’n plan te maak."
Rekenaarskerms word vir baie dinge blameer soos seer oë, kinders wat meer binnenshuis is, TikTok, maar nou is bevind dit benadeel moontlik ons asemhaling.
Dit word skermapnee genoem en die persoon wat die term geskep het, meen dat ons asem ophou wanneer ons e-posse lees. Slaapapnee is ’n algemene toestand wat veroorsaak dat lyers tydelik ophou asemhaal terwyl hulle slaap.
Linda Stone het die eerste keer in 2008 oor skermapnee geskryf toe sy besef sy hou haar asem op terwyl sy haar e-posse lees. Stone is nie ’n wetenskaplike nie en het dit destyds e-pos-apnee genoem. Sy het navorsing begin doen om te bepaal of dit net sy is wat dit doen.
Sy het 200 mense na haar huis genooi en hul hartklop en asemhaling gemonitor terwyl hulle hul e-pos gelees het. Ongeveer 80% van die mense het opgehou om normaalweg asem te haal, of hul asem opgehou of hul asemhalingspatroon verander.
Maar hoekom?
Stephen Porges, 'n professor in psigiatrie, het aan The New York Times gesê dit kan ’n refleks wees. Soos met enigiets nuuts waarmee ons gekonfronteer word, vereis ’n e-pos ’n reaksie van ons senuweestelsel. Dit moet bepaal of die nuwe ding ’n bedreiging is of nie.
“Ons asemhaling word dikwels vlakker en ons hartklop stadiger om ons in staat te stel om te fokus – dit is ons liggaam se manier om ’n plan te maak. Dit verklaar dus die proses terwyl ons e-posse lees.” Porges sê dit sal net ’n negatiewe uitwerking hê as ons dit elke dag vir ure lank doen.
Wat kan ons doen?
Bryan Robinson, psigoterapeut bekend vir sy artikels in die tydskrif Forbes, se raad is om te let op jou asemhaling en gereeld op te staan vir ‘n bietjie oefening.
