Offbeat
Weird Wide Web – Amerikaanse biblioteek raak ‘katterig’─── 15:21 Wed, 13 Mar 2024
Die program is ingestel omdat mense in die Covid-19-pandemie nie hul boetes kon betaal nie.
’n Biblioteek in die Amerikaanse deelstaat Massachusetts het met ’n slim plan vorendag gekom sodat mense kan “betaal” vir hul verlore of beskadigde boeke. Die Worcester-biblioteek het aangekondig deur sy March Meowness-program kan enigeen nou hul boete betaal deur ’n foto of skets van ’n kat in te dien.“As jy nie ’n kat het nie kan jy een teken,” het Jason Homer, uitvoerende direkteur van die biblioteek, aan NBC Boston gesê. “Ons aanvaar ook groot katte soos tiere en leeus.”
Die program is ingestel omdat mense nie in die Covid-19-pandemie hul boetes kon betaal nie en dit net opgehoop het.
Meer as 400 boetes is binne vyf dae op die manier betaal. Op die biblioteek se webtuiste noem hulle foto’s van erekatte soos honde, wasbere, orkas of enige ander dier is ook welkom.