On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Offbeat

Weird Wide Web – Ontroue man weens elektriese tandeborsel uitgevang

───   15:20 Thu, 29 May 2025

Weird Wide Web – Ontroue man weens elektriese tandeborsel uitgevang | News Article

’n Britse vrou het haar man van ontrouheid begin vermoed nadat sy die data op haar elektriese tandeborsel-metgesel-app nagegaan het en opgemerk het dat hulle op vreemde tye van die dag borsel.

Paul Jones, ’n Britse privaat speurder met meer as ’n dekade se ondervinding, het onlangs van een van sy vreemdste sake vertel. 

Dis skaars om iemand op heterdaad te betrap wanneer hulle ontrou is, maar selfs skaarser is dit om hulle vas te trek met behulp van ’n elektriese tandeborsel. En tog, dit kan gebeur! Een van Jones se kliënte, ’n getroude ma van twee wat probeer het om haar kinders se borselgewoontes te verbeter deur hul elektroniese tandeborselgebruik via ’n slimfoon-app te monitor, het agtergekom die borsel is op vreemde tye gebruik, tye wanneer haar kinders by die skool moes wees en haar man by die werk.

Nadat sy seker gemaak het dat haar kinders wel by die skool was, het sy haar man gekonfronteer. Hy het beweer hy was die hele dag by die werk.

“Oor tyd het die kliënt opgemerk dat haar maat se borselgeskiedenis snaakse tye wys – tye wanneer hy glo by die werk was,” sê Jones. “Aanvanklik het dit nie soos iets ernstig gelyk nie. Om laat op ’n Vrydagoggend te borsel het nie dadelik rooi ligte laat flikker nie.”

Lees ook: Weird Wide Web – Vrou se aksent verander na mangelverwydering

Maar later het die vrou ’n patroon begin raaksien. Die elektriese tandeborsel is elke Vrydagoggend gebruik – ’n tyd wanneer haar man veronderstel was om by die werk te wees. In werklikheid was hy egter al maande lank nie op Vrydagoggende by die werk nie. Hy het eerder ’n buite-egtelike verhouding gehad met ’n kollega – sommer daar in hul huis, met die wete dat niemand anders teenwoordig sou wees nie.

“Dis met ’n tydstempel, dikwels plekgebaseer, en sonder emosie,” sê Jones oor die data wat deur slimtoestelle aangeteken word. “Wanneer ’n toestel wys iemand het hulle tande geborsel om 10:48, terwyl hulle werk om 09:00 moes begin het – dis moeilik om te verduidelik.”

Jones waarsku ontroue partye dat slimtoestelle soos stemassistente en tandeborsels oor verdoemende inligting kan beskik – en maak nie saak hoe goed jy kan jok nie, “onskuldige data” kan jou ontmasker.

Lees meer

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.