On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Offbeat

Weird Wide Web – Vrou se aksent verander na mangelverwydering

───   15:56 Mon, 26 May 2025

Weird Wide Web – Vrou se aksent verander na mangelverwydering | News Article
Foto ter illustrasie

’n 47-jarige vrou van Wes-Frankryk praat met ’n kenmerkende Engelse aksent sedert sy 14 jaar gelede haar mangels laat verwyder het.

Laetitia, ’n kassier van Montval-sur-Loir in Sarthe, Frankryk, praat nie Engels nie.  

Sy ken slegs ’n paar basiese woorde wat sy dekades gelede op skool geleer het, maar as jy haar in haar moedertaal hoor praat, sou jy dink sy is in Engeland gebore. Vir die afgelope 14 jaar praat Laetitia met ’n Engelse aksent wat die meeste mense laat dink sy is Angelsaksies.

Die waarheid is baie vreemder – die 47-jarige vrou sit met die Engelse aksent vandat sy wakker geword het na ’n mangeloperasie.

Haar kinders het dieselfde prosedure ondergaan en daarna met nasale stemme gepraat, maar dit het ná ’n paar dae verdwyn. Daarom was sy aanvanklik nie té bekommerd nie. 

Maar soos die weke verbygegaan het, het dié vreemde aksent gebly.

LEES OOK: Weird Wide Web – ChatGPT verbreek ’n huwelik van 12 jaar

“Toe ek wakker word, het ek hierdie aksent gehad,” vertel Laetitia onlangs aan Le Petit Courrier. “Ek het die chirurg ná die operasie gesien. 

“Hy het nie enige spesifieke probleme genoem nie, so ek was nie bekommerd nie. Ek het toe drie weke later vir my opvolgafspraak gegaan. 

“Hy het gesê, ‘Alles is reg, alles is oukei.’ Ek het hom gevra wanneer ek my stem terug sou kry. Hy het geantwoord: ‘Jy moet geduldig wees.’”

LEES OOK: Weird Wide Web – Te lank of te veel sit, kan sleg wees vir jou brein

Drie maande later het sy weer die dokter gaan sien en gesê sy was nou lank genoeg geduldig, maar sy wou haar ou stem terughê. 

Aanvanklik het hy nie verstaan waarvan sy praat nie, en toe sy hom van die Engelse aksent vertel, het hy gevra: “Is jy dan nie Angelsaksies nie?” Selfs die dokter kon nie glo dat sy nie regtig Engels praat nie, maar net hierdie vreemde aksent het nie.

“As ek jou ondersoek, lyk alles normaal. Ek weet nie wat om vir jou te sê nie; jy is ’n wetenskaplike raaisel,” het Laetitia se dokter aan haar gesê.

Laetitia het al verskeie dokters gesien, insluitend ’n oor-neus-en-keelspesialis, maar niemand kon vir haar sê waarom sy die Engelse aksent ontwikkel het nie en ook nie of daar ’n manier is om daarvan ontslae te raak nie. 

Sy is uiteindelik gediagnoseer met Foreign Accent Syndrome, ’n uiters seldsame toestand wat deur ’n ongeluk, beroerte of operasie veroorsaak kan word. Volgens Laetitia se mediese rekords is een deel van haar brein tydens die mangeloperasie van te min bloed voorsien, wat moontlik tot die aksent gelei het. 

Al wil sy steeds haar ou stem terughê, en sommige mense dink sy probeer met hulle lol, veral familielede wat lanklaas met haar gepraat het, het Laetitia aan haar vreemde aksent gewoond geraak. Dis nou deel van wie sy is, en sy het geleer om dit te aanvaar.

Lees meer

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.