Offbeat
Feel Good Friday – Mens se beste vriend die enigste ‘Option’.─── 15:39 Fri, 31 Oct 2025
 
                    
                    
                    
                    
                    
            Ons het almal al gehoor die gesegde gehoor: “’n Hond is ’n mens se beste vriend.” Hoe ver is jy bereid om te gaan vir jou beste vriend? Sello Mabote het hierdie vraag beantwoord deur 15 km vir sy beste vriend te stap.
Die band tussen ’n man en sy hond is soms sterker as enigiets anders; selfs pyn, afstand of wanhoop. In die Vrystaat het Sello Mabote gewys wat ware toewyding beteken.
Toe sy lojale hond, Option, vroeg Dinsdagoggend deur ’n motor getref is, het hy eenvoudig geweier om op te gee.
Sello het, sonder vervoer of hulp, sy beseerde hond styf in sy arms gehou en 15 km ver geloop, vasbeslote om by die DBV in Virginia uit te kom, waar seniorinspekteur Ernest Khakhau ingestem het om hom langs die pad te ontmoet.
Toe die DBV-inspekteurs hom sien aankom, uitgeput, maar nog steeds met sy hond in sy arms, het dit almal diep geraak.
LEES OOK: Feel Good Friday – Vriendelikheid kan jou ver bring
“Hy het niks gehad nie, behalwe liefde en hoop vir sy hond,” het die DBV-span gesê. “Toewyding soos hierdie verdien elke kans.”
Option is dadelik na dr. Marna Walker van die Doorn-dierekliniek gehaas, waar haar gebreekte been tydens ’n operasie geheg is. Die behandeling sou duisende rande kos en die DBV het die publiek gevra om te help.
Toe gebeur die wonderwerk; ondersteuning het van regoor die land ingestroom. Binne ure is genoeg geld ingesamel om al Option se mediese koste te dek en selfs vir Sello te help in sy tyd van nood.
 Sello en Option. Foto: Virginia SPCA
Sello en Option. Foto: Virginia SPCA
Option sal die volgende paar weke veilig by die Virginia DBV herstel, met voedsame maaltye, sorg en aandag. Wanneer sy heeltemal gesond is, sal sy gesteriliseer, ingeënt en met ’n mikroskyfie gemerk word voordat sy teruggaan huis toe.
Die vrygewigheid het egter nie daar gestop nie; skenkers het ook hondekos vir ’n hele jaar, ’n nuwe tuig en leiband, en selfs vir Sello se daaglikse benodigdhede voorsien.
“Een man se liefde vir sy hond het honderde mense geïnspireer,” sê Thea Smit van die DBV. “Dis ’n herinnering dat mense soms min het, maar soveel gee.”
 Blye weersiens. Foto: Virginia SPCA
Blye weersiens. Foto: Virginia SPCA
Toe Sello weer by Option gaan kuier het, het trane oor sy wange gerol toe sy stert bly swaai. “Die band tussen hulle is iets wat woorde skaars kan beskryf,” sê die DBV. “Dis suiwer, onbreekbare liefde.”
Sello het met trane in sy oë gesê: “Ek was daardie dag magteloos, maar die Virginia DBV het my hoop gegee. Dankie uit die diepte van my hart dat julle my hond gered het. Mag God julle seën vir die ongelooflike werk wat julle doen.”
Nog ’n bewys dat liefde altyd oorwin.
OFM Nuus mvh
 
                 
                             
                             
                             
                             
                             
                     
                     
             
             
            
 
                    