Offbeat
Weird Wide Web – Kaggelvideo brand ’n gat van $1 miljoen in YouTube se sak─── 15:16 Tue, 06 Jan 2026
Mense hou van vuur, selfs al is dit virtueel. ’n Eenvoudige video wat vir tien ure lank niks anders wys as ’n knetterende kaggel nie, het stil-stil meer as 157 miljoen kyke en sowat $1 miljoen in advertensie-inkomste verdien.
Die video met die uitputtende titel Fireplace 10 hours full HD is reeds in 2016 opgelaai en bestaan bloot uit ’n stillerige kaggel wat knetter en smeul, sonder enige musiek, stem of vertelling. Tog het dié digitale vuurtjie die wêreld se aandag (en kontant) vasgevang.
Wat dit selfs meer indrukwekkend maak, is dat die YouTube-kanaal agter die video – ook genaamd Fireplace 10 Hours – sedertdien net hierdie een video opgelaai het.
Geen vlog. Geen opvolg. Geen kat-in-’n-kerskous. Net die een vurige treffer. En dis genoeg om ander inhoudskeppers se hout nat te maak.
YouTube wemel van sogenaamde “ambient videos” – lang, rustige snitte wat mense gebruik om te ontspan, studeer of aan die slaap te raak. En hoe langer jy kyk (of slaap), hoe meer geld maak die skepper uit advertensies.
In dié geval het net een video dit reggekry.
Intussen het kykerkoppies begin wonder wie nou eintlik die geld in die hande kry. YouTube se huidige monetiseringsbeleid vereis dat ’n kanaal ten minste drie video’s moet hê voordat dit vir inkomste-verdienste oorweeg word – ’n reël wat eers ná 2016 ingestel is.
Dit beteken hierdie kanaal het waarskynlik net betyds op die geldwa gespring.
LEES OOK: Weird Wide Web – China herstel snelweg sonder om verkeer te ontwrig
Wat ook al die presiese besonderhede is: Hierdie kaggel het gewys dat jy nie vuurwerke of drama nodig het om YouTube-rykdom te behaal nie.
Net ’n warm vuurtjie, ’n kamera, en ’n wêreld vol mense wat op soek is na rustige agtergrondgeluide.
