Offbeat
Weird Wide Web: 15-jarige in die moeilikheid, alles in die naam van liefde─── 15:10 Mon, 23 Mar 2026
'n 15-jarige seun in Duitsland het iets gedoen wat klink soos die storielyn van 'n tienerfliek, behalwe dat dit baie eg was.
Die tiener het op 14 Maart by ’n busdepot in Wiesbaden ingesluip, ’n meestersleutel in die hande gekry, en met ’n groot bus weggery. En niemand het dit dadelik agtergekom nie.
Die hele voorval is egter op kringtelevisie vasgevang. Die personeel het eenvoudig aanvaar dis een van hul bestuurders wat uitry. Want ’n bus wat die depot verlaat is mos normaal.
Dit was eers later die middag, ná ’n bietjie verwarring onder die personeel, dat die maatskappy besef het dit was nie ’n busbestuurder wat met die bus gery het nie. Dit is gesteel.
Met behulp van die bus se GPS-stelsel kon die polisie dit vinnig opspoor – in Karlsruhe sowat 130 km verder. Toe hulle die bus stop, was hulle geskok om te sien wie agter die stuur sit: nie ’n ervare bestuurder nie, maar ’n tienerseun.

Hy het toe glo pas sy 14-jarige meisie by die skool gaan oplaai en was op pad huis toe, terug na Weisbaden. Ja, hy het die bus gesteel vir ’n skoolrit.
Die polisie probeer nog uitvind hoe hy die sleutel gekry het, en dalk nog indrukwekkender, hoe hy so ’n groot voertuig so goed kon bestuur.
’n Ondersoek is aan die gang, en verskeie aanklagte staar die seun in die gesig, insluitend diefstal en bestuur sonder ’n rybewys.
Die goeie nuus? Niemand is beseer nie, en die bus is veilig terugbesorg – sonder ’n enkele skrapie.
Lees meer
