Offbeat
Weird Wide Web: ‘Seekatfossiel’ van 300 miljoen jaar toe nié seekat─── 15:39 Mon, 13 Apr 2026
’n Fossiel wat voorheen as die wêreld se oudste seekat beskou is, is herklassifiseer nadat nuwe navorsing aan die lig gebring het dit was nie ’n seekat nie, maar eintlik ’n ander soort antieke seedier.
Die fossiel, bekend as Pohlsepia mazonensis, is na raming 300 miljoen jaar oud en is selfs deur Guinness World Records erken as die oudste bekende seekat. Maar nuwe navorsing het dié lang wetenskaplike rekord omvergewerp.
Wetenskaplikes sê die wese was eintlik ’n dopdraende koppotige – nader verwant aan ’n seilslak (‘nautilus’) as aan moderne seekatte. Die fossiel het navorsers al dekades lank laat kopkrap, maar ’n nuwe studie, gelei deur Thomas Clements van die Universiteit van Reading, het eindelik die raaisel opgelos.
Hy verduidelik die fossiel was moeilik om te interpreteer. Op die oog af het dit soos ’n diepsee-seekat gelyk. Die handgrootte fossiel is ontdek in Illinois se Mazon Creek-gebied – bekend vir sy goed bewaarde prehistoriese lewe van lank voor die dinosourusse.
Toe dit in 2000 as ’n seekat geklassifiseer is, het dit die tydlyn van seekat-evolusie dramaties teruggeskuif. Die volgende oudste bevestigde seekatfossiel is slegs sowat 90 miljoen jaar oud, wat ’n groot gaping geskep het wat moeilik was om te verklaar.
Lees ook: Weird Wide Web: Nikotienafval rede waarom eekhorings damprook!
Navorsers het dus weer daarna gekyk – hierdie keer met behulp van ’n sinchrotron, ’n kragtige masjien wat helder lig gebruik om fossiele in detail te ondersoek.
Binne-in die fossiel was ’n raspertong, ’n lintagtige struktuur met rye klein tandjies. Hier raak dit interessant, elke ry het 11 tandjies gehad. Moderne seekatte het net sewe of nege – maar ouer seilslakagtige wesens het meer.
Daardie detail het alles verander.
“Dit het te veel tande, so dit kan nie ’n seekat wees nie,” het Clements gesê.
Die patroon stem ooreen met ’n ander fossiel uit dieselfde gebied, wat bevestig dit behoort aan ’n seilslak-spesie. Wetenskaplikes glo die wese se dop het waarskynlik ontbind voordat dit gefossileer het – wat die foutiewe identifikasie veroorsaak het. Ná die studie het Guinness World Records bevestig dat hulle die titel van “oudste seekatfossiel” gaan verwyder.
’n Goeie herinnering dat in die wetenskap … selfs ’n 300-miljoen-jaar-oue geheim nog herskryf kan word.
Lees meer sm
