Offbeat
Weird Wide Web – Nizhuhe-dorpskinders neem ’n hysbak skool toe─── 16:00 Thu, 10 Sep 2026
Diep in die Nizhu-rivier se Grand Canyon moes kinders jare lank ’n gevaarlike bergpad aandurf om by hul laerskool hoog bo die dorpie uit te kom.
Die klim het ongeveer drie uur eenrigting geneem – dus ses uur heen en weer, net om by die skool te kom en weer huis toe te gaan. Die kinders moes teen steil, smal en soms gladde paadjies opklim en hul hande en voete gebruik om hulself teen die krans op te trek. Een leerder het vertel hoe maklik dit was om te gly en te val.
Toe, in 2022, het die owerhede die 268 meter hoë Qingyun Ladder geopen – ’n buitelughysbak wat langs die krans gebou is. Skielik kon ’n gedeelte van ’n reis wat voorheen ure geneem het, binne minute afgelê word.
Maar toe kom daar ’n onverwagse probleem. Die hysbak het só gewild geword onder toeriste wat die asemrowende canyon besoek het dat die kinders soms ure lank moes wag in toue vir die einste hysbak wat gebou is om hulle te help om by die skool uit te kom!
Dus is ’n tweede hysbak in Julie vanjaar geopen. Die nuwe Fuyao Ladder strek 288 meter bo die bodem van die canyon en is vinniger en ruimer as die oorspronklike hysbak. Die kinders neem nou ’n pendelbus tot by die hysbak, ry met die hysbak teen die krans op, klim dan oor na ’n kabelkar en stap die laaste entjie skool toe.
Lees ook: Weird Wide Web – Punk-Rock-uitstappie neem onverwagte wending
Die hele reis neem nou ongeveer 30 minute in plaas van drie uur. En die belangrikste van alles – die stelsel is gratis vir die plaaslike kinders. Dit is waarskynlik een van die indrukwekkendste skoolroetes ter wêreld. Maar hierdie storie is om nog ’n rede aangrypend – veral as aan omstandighede in Suid-Afrika gedink word.
Want terwyl hierdie Chinese kinders ’n buitengewone oplossing nodig gehad het omdat hul dorpie se geografie so uitdagend is, word baie Suid-Afrikaanse kinders steeds deur meer basiese uitdagings in die gesig gestaar wanneer dit kom by veilig by die skool uitkom en in ’n behoorlike omgewing leer.
Die Suid-Afrikaanse departement van basiese onderwys erken steeds uitdagings rondom skoolinfrastruktuur, insluitend water, sanitasie, elektrisiteit, onveilige strukture en die veiligheid van leerders. Navorsing het ook getoon kinders in sommige landelike gemeenskappe moet gevaarlike roetes skool toe stap.
En dít is die opvallende kontras: In een deel van die wêreld bou ingenieurs reuse-glashysbakke teen die kant van ’n berg sodat kinders veilig by die skool kan uitkom. En elders werk ons steeds daaraan om seker te maak elke kind het iets so basies soos ’n toilet, betroubare water en ’n veilige roete skool toe.
Suid-Afrika het wel groot vordering gemaak met skoolsanitasie. Die departement van basiese onderwys het in Julie aangekondig dat al die projekte uit die oorspronklike 2018 SAFE-agterstand van puttoilette voltooi is. Maar die departement het ook beklemtoon die instandhouding en verbetering van skoolinfrastruktuur bly ’n voortdurende uitdaging.
Dalk is dít die ware les van hierdie wonderlike, vreemde storie: Onderwys begin lank voordat ’n kind by ’n lessenaar gaan sit. Dit begin wanneer hulle nog op pds is skool toe.
Veilig, met waardigheid, en met die eenvoudige wete dat die volwassenes ’n plan gemaak het om hulle by hul klaskamer te kry.
Vir die kinders van Nizhuhe behels daardie plan toevallig ’n hysbak wat amper 300 meter teen die kant van ’n berg opgaan. Nou dít is ’n skoolbus met ’n uitsig!
Lees meer sm
