Offbeat
Wetenskaplikes ontdek eerste nuwe katspesie in meer as 100 jaar─── 13:52 Fri, 18 Sep 2026
’n Piepklein wilde kat in Bolivia se Youngas-woud is as die eerste nuwe katspesie wat in meer as ’n eeu formeel benoem en beskryf is.
Die Tilcayo, soos plaaslike gemeenskappe die dier ken, is deel van ’n groep tierkatte wat oor Suid-Amerika heen voorkom. Navorsers sê dit is in ’n woud ontdek in ’n bergagtige omgewing met hoë lugvoginhoud.
Reuters berig die dier is sowat 46 cm lank en weeg 1.4 kg, wat dit kleiner maak as die gemiddelde huiskat. Genetiese data bevestig die kat, met die wetenskaplike naam Leopardus tilcayo, is ’n nuwe spesie.

’n Leopardus tilcayo-kat van nader beskou. Foto: Fernando Faciole/National Geographic/Reuters
Paola Nogales-Ascarrunz, ontdekkingsreisiger van National Geographic, het die navorsing gelei om die oulike klein kat te identifiseer. Sy sê die dier se pels is ligbruin met onegalig gevormde rosette oor die hele lyf. Sy is een van die skrywers van die navorsing wat Donderdag (17/9) in Current Biology gepubliseer is.
Min inligting is bekend oor dié kat se biologie en leefstyl. Dit blyk egter klein knaagdiere is deel van hul dieet en hulle is waarskynlik snags meer aktief, sê Nogales-Ascarrunz.
Jonas Lescroart van die Universiteit van Antwerpen in België is ’n evolusionêre bioloog en medehoofskrywer van die navorsing. Hy sê tierkatte is ’n sogenaamde kriptiese spesie. Dit beteken hulle kan nie maklik bloot op grond van hul voorkoms van mekaar onderskei word nie.
‘Watter tierkat het ons in Bolivia?’
Tierkatte is voorheen as ’n enkele spesie beskou, maar genetiese studies dekades gelede het reeds op die bestaan van verskeie spesies gedui. “Ons inligting is nou nog beperk tot die twee lewende individue wat ons ondersoek het, asook ’n klein aantal opnames van kameras wat in die natuur opgestel is,” sê Lescroart.
Die Boliviaanse kat het belangstelling gewek omdat sy eienskappe nie oorgestem het met bestaande beskrywings wat meestel op Brasiliaanse katte gegrond was nie, sê Nogales-Ascarrunz. “Dit het ons laat wonder watter tierkat het ons eintlik in Bolivia?”
Die span het die DNS van 38 katte van verskeie lande in Suid-Amerika ontleed, insluitend agt museummonsters. Die navorsing het bevind tierkatte bestaan inderwaarheid uit vyf geneties onderskeibare spesies. “Ons het nooit verwag dat hierdie Boliviaanse tierkat ’n afsonderlike spesie sou wees nie, en niemand het dit ooit as ’n ander dier, subspesie of enigiets dergeliks voorgestel nie,” sê Lescroart.

Paola Nogales Ascarrunz by een van die lkatte. Dié 10-jarige mannetjie bly in die Senda Verde-wildreservaat nadat ’n gesin hom in hul huis aangehou het. Foto: Fernando Faciole/National Geographic/Reuters
Genetiese ontleding toon die Tilcayo-lyn het sowat 1,4 miljoen jaar gelede van ander tierkatte afgeskei. “Hoe groter die verskille in hul DNS, hoe langer is die tydperk wat ons skat daardie lyne fisiek van mekaar geskei was,” sê Lescroart. So ’n verskil word oor die algemeen as ’n spesievlak-skeiding by katte beskou.
Die navorsingspan het ook ’n nuwe subspesie van die tierkat in Peru se Yungas beskryf en dit Leopardus tigrinus antisuyo genoem, na Antisuyu, die streek van die voormalige Inka-ryk wat die gebied waar dié kat voorkom, ingesluit het.
Kwesbare spesies
Die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) se Rooilys, wat die bewaringstatus van spesies dophou, beskou tierkatte as twee kwesbare spesies waarvan die getalle afneem.
Die behoefte aan ’n duideliker beoordeling is veral dringend in die Yungas, een van die streek se ekostelsels wat die meeste bedreig word.
Die bergwoude is onder toenemende druk weens ontbossing, die uitbreiding van landbou, asook brande veroorsaak deur mense en mynbou, sê Nogales-Ascarrunz. Die herstel van dele van die woud wat deur brande beskadig is, die beskerming van oorblywende inheemse woude en die instandhouding van verbindings tussen habitatte is prioriteite.
“Om aan die publiek te wys daar is selfs in ’n bekende groep soos katte steeds nuwe spesies wat ontdek kan word, kan ’n belangrike boodskap oordra,” sê Eduardo Eizirik, ’n evolusionêre bioloog aan die Pontifícia Katolieke Universiteit van Rio Grande do Sul in Brasilië en senior skrywer van die navorsing.
“Daar is talle onontdekte spesies wêreldwyd en hulle loop die gevaar om uit te sterf nog voordat ons hulle ontdek.”
OFM Nuus sm/dgsm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

