Rugby
Rassie sê waarom Cheetahs sukkel─── 09:10 Tue, 06 May 2008

Hendrik Cronjé
Bloemfontein. - Dieselfde redes waarom hy die Vodacom-Vrystaat-Cheetahs vir die Stormers verruil het, is steeds die sentrale streekspan se grootste struikelblok in die Super 14-rugbyreeks.
So sê Rassie Erasmus as hoofafrigter van die Stormers en as die voormalige breier van die Cheetahs.
"Dit is 'n moeilike jaar vir die Cheetahs," sê Erasmus aan OFM Sport se Sports Cage.
"Dieselfde redes waaroor ek die Cheetahs verlaat het, is steeds 'n probleem. Dit is dat die Cheetahs nie genoeg diepte het nie. En daar is ook nie genoeg geld om diepte te koop nie," sê die Stormer-afrigter.
Erasmus sê die Cheetahs het onder hom as breier, soos die geval vanjaar onder Naka Drotské as afrigter is, gebruiklik tot ronde 6 en 7 goeie spel gelewer, voordat beserings 'n stokkie daarvoor gesteek het.
Erasmus het as Vrystaat-breier die Curriebeker twee keer verower, maar klokslag in die Super 14 gesukkel. Drotské is nou in dieselfde bootjie. Drotské het verlede jaar, soos Erasmus in sy eerste jaar as Vrystaat-breier, die Curriebeker verower. Maar soos die geval met Erasmus as die Cheetahs se Super 14-breier was, sukkel Drotské ook nou in die Super 14.
En dit is nie omdat Drotské soos Erasmus nie 'n goeie afrigter is nie. Allermins. Erasmus het vanjaar as Stormer-afrigter bewys dat hy met diepte en genoeg geld om spelers te koop waarskynlik die voorste tegniese breier in wêreldrugby is. Drotské het op sy beurt weer sy sterk punte wat onder meer sy goeie menseverhoudinge met sy spelers insluit.
Soos die geval met Erasmus was, is Drotské nie iemand wat verskonings soek nie. Dit is eerder wanneer iemand soos Erasmus perspektief van buite probeer gee, dat 'n mens besef hoe 'n gedugte taak Drotské vanjaar met 'n lang beseringslys gehad het.
Drotské se beseringslys het vanjaar spelers soos Bevin Fortuin (Bok-heelagter), Gavin Passens (Bok-vleuel), Jacques-Louis Potgieter (losskakel), Juan Smith (Bok-flank, kaptein), Kabamba Floors (Bok-flank), Barend Pieterse (Bok-slot), Kobus Calldo (stut) en CJ van der Linde (Bok-slot) ingesluit.
Al dié genoemde spelers het minstens een of twee wedstryde weens beserings misgeloop. Steeds het Drotské nog nie een keer oor sy beseringslys gekla nie. En dié is nie verskonings nie, dit is 'n realiteit.
Dan moes Drotské sedert die verowering van die Curriebeker, en sedert verlede jaar se Super 14-reeks, sy span herbou, want spelers soos Zane Kirchner (Griekwa-heelagter, Bulle), Tiger Mangweni (Griekwa-heelagter, Blou Bulle), Philip Burger (Vrystaat-vleuel, Perpignan), Ronnie Uys (Griekwa-senter, Brive), Marius Joubert (Vrystaat-senter, Clermont), Willem de Waal (Vrystaat-losskakel, Narbonne), Michael Claassens (Vrystaat-skrumskakel, Bath), Bian Vermaak (Vrystaat-voorspeler, oorsee), Gareth Krause (Griekwa-losvoorspeler, oorsee), Ryno van der Merwe (Vrystaat-agtsteman, Brive), Corniel van Zyl (Vrystaat-slot, Treviso), Jannie du Plessis (Vrystaat-stut, Haaie), Ollie le Roux (Vrystaat-stut, Leinster) en Os du Randt (Vrystaat-stut, uitgetree) is almal nie sedert 2007 meer beskikbaar nie.
Rassie sê waarom Cheetahs sukkel: