Rugby
Profiel: Chris Rossouw─── 11:39 Thu, 03 Jul 2008

Yolandi Beneke
Mediabestuurder van die Vodacom-Vrystaat-Cheetahs
Bloemfontein. - Op die 14de November 1976 is die losskakel van die Vodacom-Vrystaat-Cheetahs, Chris Rossouw, in Bellville gebore.
Sy rugbyloopbaan het vir hom in graad een aan die Laerskool Darling begin, voordat hy sy skoolloopbaan in die bekende Hoërskool Paarl Gimnasium voltooi het.
Die 31-jarige speler wat 1.87m lank is en 90kg weeg, het net na hy sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het, in 1999 vir die Westelike Provinsie begin speel. Gedurende sy tydperk by die WP-span, wat gestrek het tot 2005, was hy in die jaar 2000 gekies as ‘n Springbok - wat Chris ook beskou as die grootste mylpaal in sy rugbyloopbaan.
In 2001 word hy gekies vir die Suid-Afrikaanse A-span.
In 2005 besluit Rossouw om ‘n aanbod te aanvaar om vir Toulon in Frankryk te gaan speel. Sy ervaring in Frankryk was vir hom baie aangenaam - op en af van die veld. Hy het baie geleer en gesien en dit is iets wat hy altyd sal onthou, maar Chris het in dieselfde asem genoem dat hy baie verlang het na sy vriende, braaivleis en die Suid-Afrikaners se goeie waardes en maniere.
In 2008 keer hy terug van Toulon af, nadat hy ‘n aanbod gekry het vanaf die Vodacom-Vrystaat-Cheetahs om vir hulle te speel.
Die nuwe losskakel wat dan ook as die Absa Speler van die wedstryd teen die Leeus aangewys is, is ‘n man wat hou van braaivleis en in sy vrye tyd speel hy graag gholf.
In sy eie woorde het Chris gesê dat dit vir hom ongelooflik lekker is hier in Bloemfontein en veral by die span. “Almal is vriendelik, behulpsaam en gasvry.” Die span is ‘n eenheid en hy kon vinnig antwoord dat die grapjas van die span Wian du Preez (stut) is.
Ons hou Chris dop hierdie seisoen en is seker dat hy nog van groot waarde vir die Vodacom-Vrystaat-Cheetahs sal wees. Chris speel Saterdag vir die Vodacom-Vrystaat-Cheetahs op Nuweland teen WP. Die afskoptyd vir die wedstryd is om 15:00.