On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night OFM
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Rugby

Oud-Puk help Brumbies

───   08:18 Tue, 17 Feb 2009

Oud-Puk help Brumbies | News Article

Potchefstroom. - ’n Oudstudent van die Pukkampus van die Noordwes-Universiteit is pas as sportsielkundige van ’n Super 14-span in Australië aangewys.

Dr. Pieter Kruger is deur die Brumbies gekontrakteer om toepaslike span- en individuele sielkundige assesserings en intervensies te behartig. Kruger was die afgelope drie jaar by die bekende Harlequins-span in Londen betrokke.

Die vorige afrigter van die Harlequins, Andy Friend, is deur sy tuisland gewerf om die Brumbies af te rig. Hy het sy eie bestuurspan saamgestel en Kruger gevra om die span se sportsielkundige vir die komende seisoen te wees.

Weens Kruger se betrokkenheid by die Harlequins en die feit dat hy ’n vennoot in ’n privaatpraktyk in Londen is, kon hy nie permanent na Australië verhuis nie.

Kruger het ’n kleurryke loopbaan van meer as tien jaar by rugbyspanne in Suid-Afrika en Engeland. Hy het as student betrokke geraak by die o.14- en o.15-spanne van Potchefstroom Gimnasium wat albei die halfeindstryde van die nasionale skoletrofee gehaal het. Hy het sy BA-graad, twee honneursgrade in psigologie en sportwetenskap met lof aan die NWU-Puk verwerf.

Ná hy sy meestergraad in kliniese sielkunde ook met lof aan die Vrystaatse Universiteit behaal het en sy internskap en gemeenskapsdiensjare voltooi het, het hy na die Puk teruggekeer om sy doktorsgraad in sportsielkunde te verwerf. Hy het sy navorsing gedoen oor die Super 12-spanne en in 2003/4 opgetree as konsulterende sportsielkundige vir Rudy Joubert se Super 12 Bulls.

In 2004 was Kruger die sportsielkundige vir die NWU-Puk se rugbyinstituut en het die eerste span gehelp om die SASSU-kampioenskap en die Super Sport nasionale klubkampioenskap vir die eerste keer in die bestaan van die NWU-Puk te wen. Hy was ook sportsielkundige vir Peter de Villiers se o.21-span wat in die Wêreldbeker vir o.21-spanne gespeel het.

In 2005 het hy na die Luiperds rugby-unie vertrek wat in daardie jaar die eindstryd van die Vodacom-beker gehaal het, asook in die Curriebeker se top agt gespeel het. Hy was benewens sy bedrywighede by die Luiperds, ook ’n dosent in sportsielkunde by die NWU-Puk en het ook ’n kliniese sielkunde-praktyk bedryf.

Kruger het in 2006 na die Verenigde Koninkryk verhuis en gou by die Harlequins as hulle sportsielkundige aangesluit. In Londen het hy sy werk in kliniese-, bedryf- en sportsielkunde voortgesit en verder studeer aan die Albert Ellis Instituut in New York en die Beck Instituut in Philadelphia in die VSA. Hy is tans ook ’n senior lektor in die departement sielkunde aan die London Metropolitan University.

Kruger het die Harlequins die afgelope drie jaar gehelp waar hulle in die Guinness Premierskap gespeel het en ’n krag in die Europese Heineken-beker geword het.

Kruger sê as ’n sportsielkundige in ’n spansport is dit van kritieke belang om die balans tussen span- en individuele prosesse te bewerkstellig. Vanuit ’n spanperspektief moet spelers dieselfde visie op die veld deel en ook daartoe in staat wees om duidelik onder groot druk te kan kommunikeer.

Kruger is met ’n oud-Potchefstromer, Suzanne Mulder, getroud wat tans as ’n mediese dokter by ’n privaatpraktyk in Londen praktiseer.

FOTO’S:
Pieter Kruger 01: Pieter Kruger saam met die bekende Wallabie-kaptein, Stirling Mortlock, tydens ’n oefening van die Brumbies. Mortlock is ook die kaptein van die Brumbies.

Pieter Kruger 04: Pieter Kruger en Andrew Mehrtens, die bekende Nieu-Seelandse skopper, tydens ’n jaareindfunksie van die Harlequins.

Pieter Kruger 05: Pieter Kruger by Twickenham Stoop, die Harlequins se tuisgronde, kort voor ’n wedstryd.
 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.