International
Polisie Doer Onder waarsku oor ‘crimefluencers’ wat kwesbare meisies aanlyn teiken─── 14:03 Thu, 30 Oct 2025
Die Australiese polisie waarsku ouers teen die opkoms van sogenaamde “crimefluencers” – jong mans en seuns wat aanlyn misdaadnetwerke vorm en kwesbare meisies teiken in ’n verdraaide kultuur van geweld, manipulering en uitbuiting.
Australië se polisiehoof Krissy Barrett sê hierdie groepe word nie gemotiveer deur geld of seksuele bevrediging nie, maar eerder deur ’n begeerte om ander leed aan te doen vir vermaak of aanlyn gewildheid. “Die oortreders is meestal jong mans uit ’n Westerse, Engelssprekende agtergrond.
“Die slagoffers is oorwegend jong meisies met ’n lae selfbeeld, geestesgesondheidsprobleme en ’n geskiedenis van selfbesering of eetversteurings,” sê Barrett.
Speletjieplatforms soos Roblox
Die misdadigers gebruik aanlyn speletjieplatforms soos Roblox en kommunikasie-apps soos Discord en Telegram om slagoffers te werf. Barrett beskryf die proses as ’n soort aanlyn jagtog.
Meisies se aanlyn aktiwiteite word noukeurig gevolg, en hulle word geteister en gemanipuleer om geweld te pleeg, selfs teen hulself, hul broers en susters of troeteldiere.
“Om in hierdie netwerke aanvaar te word moet die oortreders dikwels ’n toets slaag of ’n taak uitvoer, soos om video’s te verskaf van ander wat hulself beseer, óf een of ander grusame inhoud,” verduidelik Barrett.

Krissy Barrett is Australië se eerste vroulike polisiehoof. Foto: X
Die Australiese polisie het reeds 59 verdagtes geïdentifiseer, en nege internasionale en drie plaaslike inghegtenisnemings uitgevoer. Die drie verdagtes in Australië is tussen 17 en 20 jaar oud en het glo slagoffers aanlyn geteiken en gedwing tot selfbesering of geweld.
Die polisie werk ook nou saam met Microsoft aan ’n KI-prototipe wat emoji’s en sleng van lede van Generasie Z en Generasie Alfa kan ontleed in geïnkripteerde boodskappe. Die doel is om aanlyn groomers vinniger te identifiseer en kinders vroeër teen leed te beskerm.
“Hierdie netwerke is ’n nuwe en ontstellende front in tradisionele geslagsgebaseerde geweld. Die slagoffers verstaan dikwels nie die volle gevolge van hul deelname nie, en die misdadigers moedig mekaar aan om die grense van geweld te verskuif,” sê Barrett.
Betrokke ouers
Sy moedig ouers en versorgers aangemoedig om waaksaam te wees en aktief betrokke te raak by hul kinders se digitale lewe. “As dit vroeër ’n dorp geneem het om ’n kind groot te maak, verg dit nou ’n hele land om hulle veilig te hou,” sê sy.
Barrett se onthullings voor die Australiese Persklub kom kort voordat die land se beplande verbod op sosiale media vir kinders onder 16 jaar op 10 Desember in werking tree.
Platforms soos Facebook, Instagram en TikTok sal dan verplig wees om jong gebruikers te verwyder.
‘Verbod dek nie alle platforms nie’
Barrett waarsku egter die verbod dek nie alle platforms nie – speletjie- en boodskapdienste bly steeds ’n risiko.
Die Australiese polisie werk nou saam met hul eweknieë in lande soos die VSA, VK, Kanada en Nieu-Seeland om hierdie misdaadnetwerke te ontbloot en vernietig. “Ons moet saamwerk om ons kinders te beskerm teen hierdie verwronge vorm van aanlyn geweld,” sê Barrett.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus cvs/mvh

