On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

International

Moslem-sosialis word burgemeester van New York in slegte week vir Republikeine

───   14:00 Wed, 05 Nov 2025

Moslem-sosialis word burgemeester van New York in slegte week vir Republikeine | News Article
Zohran Mamdani (in swart) het die dag voor die verkiesing vroegoggend saam met tientalle ondersteuners oor die Brooklyn-brug gaan stap. Foto: X

In ’n suksesvolle verkiesingsweek vir die Demokratiese Party wat beskou word as ’n teken van Amerikaanse kiesers se ontevredenheid met pres. Donald Trump, het die stad New York sy heel eerste Moslem-burgemeester gekry.

Die Demokratiese sosialis Zohran Mamdani (34) het ’n geskiedkundige oorwinning in Dinsdag se verkiesing behaal toe hy verkies is as die nuwe burgemeester van die stad New York – ’n uitslag wat reeds sterk reaksie ontlok het van Republikeinse leiers en konserwatiewe kommentators regoor die VSA. Volgens CNN weerspieël Mamdani se oorwinning – saam met ander Demokratiese suksesse Dinsdag – ’n breër ontevredenheid met Trump se administrasie. 

Die verkiesingsuitslae toon dat kiesers, ondanks ideologiese verskille tussen kandidate, gefokus was op kwessies soos bekostigbaarheid en dienslewering. Dié kandidate was ook almal skerp krities teenoor Trump in hul veldtogte.

Zohran Mamdani is nie net die stad New York se eeste Moslem-burgemeester nie, maar ook die jongste in meer as 100 jaar. Foto: X

Mamdani, wat in Uganda gebore is, het die voormalige goewerneur Andrew Cuomo – wat as ’n onafhanklike kandidaat met die steun van Trump gestaan het – verslaan in wat beskryf word as een van die verkiesings van die jaar wat die fynste dopgehou is. Mamdani se oorwinning volg ná ’n vroeëre voorverkiesingsoorwinning teen Cuomo, en word gesien as ’n bevestiging van die Demokratiese Party se ideologiese verskuiwing na links, berig Times Magazine.

In Virginië het die gematigde voormalige verteenwoordiger Abigail Spanberger in die sterkste Demokratiese vertoning in die staat se onlangse geskiedenis gemaklik gewen. En in New Jersey het nog ’n gematigde, verteenwoordiger Mikie Sherrill, die koalisie wat Trump en haar Republikeinse teenstander, die voormalige staatswetgewer Jack Ciattarelli, opgebou het, uitmekaar geskeur met ’n sterk oorwinning.

Trump het in sy reaksie op Truth Social na anonieme meningspeilings verwys wat sou bevind het die redes is dat hy nie op die stembriewe verskyn het nie, asook die heersende regeringsluiting, die langste in die land se geskiedenis.

Mikie Sherrill (New Jersey) en Abigail Spanberger (Virginië) het goeie seges vir die Demokratiese Party behaal. Foto: X

Ook ander Republikeinse figure het vinnig en fel gereageer. Mike Johnson, speaker van die Huis van Verteenwoordigers, het Mamdani ’n “ekstremis en Marxis” genoem en gewaarsku sy verkiesing kan die toekoms van Amerika beïnvloed. 

Steve Scalise, meerderheidsleier in die Huis, het op X gesê New York het “amptelik tot ’n val gekom” voor die radikale sosialistiese vleuel van die Demokratiese Party. Sommige reaksies was besonder skerp. Randy Fine, ’n Republikeinse verteenwoordiger van Florida, het Mamdani op X beskryf as ’n “kommunistiese Moslem-djihadis”.

Mamdani het homself deurgaans as ’n demokratiese sosialis beskryf en die “kommunis”-etiket verwerp. Sy standpunte oor die afskaffing van private eiendomsbesit, die herverdeling van rykdom, en gratis staatsprogramme het hom egter in die spervuur geplaas, berig Fox News

Burgemeesterskandidaat én popkultuurfiguur

’n Verslag deur ’n antisemitisme-navorsingsinstituut het ook kommer uitgespreek oor sy standpunte oor Israel.

Tog het Mamdani ook steun ontvang. Die miljardêr Bill Ackman, wat miljoene in teen-Mamdani veldtogte belê het, het hom ná die verkiesing gelukgewens en sy hulp aangebied.

Mamdani se sosialemediastrategie het ’n groot rol gespeel in sy oorwinning, berig BBC. Sy sterk geredigeerde video’s op TikTok en Instagram is miljoene kere gekyk. Dit het hom waarskynlik gehelp om politieke grense te oorskry, en hom as sowel ’n burgemeesterskandidaat as ’n soort popkultuurfiguur help vestig.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.