On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

International

Balsaal en monumentboog: Trump ontslaan kunskommissie

───   06:30 Thu, 30 Oct 2025

Balsaal en monumentboog: Trump ontslaan kunskommissie | News Article
Foto’s van die bou-en-breekwerk aan die Withuis het op sosiale media verskyn. Foto: X

Pres. Donald Trump het al ses lede van ’n onafhanklike federale agentskap afgedank wat verantwoordelik is vir die beoordeling van sy omstrede Withuis-balsaal en beplande “Arc de Trump” in Washington DC.

Die afdanking van die lede van die kommissie vir skone kunste, verantwoordelik vir die beoordeling van openbare geboue en monumente, is bevestig deur ’n e-pos wat een van die kommissarisse ontvang het, berig The Washington Post. Die e-pos lui: “Namens pres. Donald J. Trump, stel ek u hiermee in kennis dat u aanstelling as lid van die kommissie vir skone kunste met onmiddellike effek beëindig is.”

Die stap volg nadat Trump planne bekend gemaak het vir die inrig van ’n balsaal van $300 miljoen  in die Withuis, en vir ’n monumentale boog naby die Arlington Memorial Bridge – geïnspireer deur die Arc de Triomphe in Parys, maar met ’n goue Lady Liberty bo-op. Die kommissie vir skone kunste hou toesig oor dié soort projekte.

Die kommissie, wat in 1910 gestig is, adviseer die president, kongres en plaaslike owerhede oor die ontwerp en estetika van federale geboue. Lede word gekies op grond van kundigheid in argitektuur, stedelike ontwerp en kuns, berig Newsweek.

’n Voorstelling op TikTok van hoe die Arc de Trump daar mag uitsien. Foto: Skermgreep

Daar is nog geen aanduiding wie Trump beplan om as nuwe lede aan te stel nie, berig The Guardian. ’n Withuis-amptenaar het aan NBC gesê die administrasie berei hom daarop voor om ’n nuwe groep lede aan te wys wat meer in ooreenstemming is met Trump se “America First”-beleid. 

Die Withuis het nie onmiddellik op versoeke om kommentaar gereageer nie.

Verlede week is Amerikaners getrakteer op foto’s van konstruksiewerkers wat begin het met die sloping van die Withuis se oostelike vleuel. Die ruimte sal plek maak vir Trump se beplande balsaal van meer as 8 360 vierkante meter, groter as ’n rugbyveld en amper dubbel die grootte van die huidige Withuis – wat deur welgestelde donateurs gefinansier word. 

Amerikaners keur plan af

Volgens ’n Yahoo/YouGov-peiling, waarvan die uitslae Dinsdag uitgereik is, keur byna twee derdes van Amerikaners die balsaal-planne af, terwyl slegs 25% dit goedkeur. 

Die afleggings het ’n storm van kritiek op sosiale media ontlok. Kommentators beskuldig Trump daarvan dat hy onafhanklike toesig probeer vermy. 

Ander het die stap verdedig deur te verwys na soortgelyke afleggings van Trump-aanstellings deur pres. Joe Biden in 2021.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.