Rugby
Luiperds skors afrigter lewenslank─── 15:55 Thu, 20 Aug 2009

Annemie Bester
Potchefstroom. - Die Luiperds Rugbyunie het rug styf gemaak in die stryd teen geweld en boewery in rugby en een van sy klubafrigters, Johan van Schoor, lewenslank uit rugby geskors.
Van Shoor is van Vaal Reefs en hy is saam met sy mede-afriger Piet von Wielligh deur nog ‘n klub in die Neser A-liga, Tau Lekoa, aangekla van aanranding, rassisme en vuil taal. Terwyl Von Wieligh vrygespeek is op alle aanklagte, is Van Schoor skuldig bevind aan aanranding. Op die ander twee aanklagte is hy vrygespreek. Hy word lewenslank uit alle vorme van rugby geskors.
“Rassisme, geweld en boewery hoort nie in rugby (of enige ander sport) tuis nie. Hierdie komitee beskou die klagte waarop Mnr van Schoor skuldig bevind is in ‘n baie ernstige lig. Insidente waar rassisme, geweld en boewery in rugby voorkom, geniet die afgelope tyd wye belangstelling en dekking in die media. Die publiek kry die indruk dat rassisme, geweld en boewery alledaags in sport (spesifiek rugby) voorkom en stel hierdie komitee dit homself ten doel om hierdie persepsie uit die weg te ruim. Die doel van hierdie komitee is gevolglik om ‘n gepaste sanksie (straf) op te lê onder omstandighede waar ‘n speler en/of ‘n beampte skuldig bevind word aan enige vorm van geweld of rassisme tydens ‘n rugbywedstryd.
“Die tyd het nou aangebreek dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, en sy geaffilieerde unies, streng en meëdoonloos teen hierdie boewe, skurke, rassiste, ketters en lafaards moet optree. Die gemeenskap is keelvol (siek en sat) vir rassisme en geweld in rugby. Geen speler en/of beampte behoort na hierdie komitee se mening betrokke te raak by ‘n voorval waar ander spelers handgemeen raak nie, “ lui Botes se verslag.
Die Luipers se President, mnr. James Stoffberg, het hom geskaar by adv Botes se uitspraak. “Dit is belangrik dat ons die boodskap uitstuur dat onwelvoeglike gedrag nie by rugby tuishoort nie en die Luiperds sal streng daarteen optree,” aldus Stoffberg.