Rugby
Cheetahs maak vyf veranderinge vir Crusaders─── 10:13 Wed, 14 Apr 2010

Owen Kock
Bloemfontein. - Die Vodacom Cheetahs het vyf veranderinge aangebring aan hul beginspan vir Saterdag se Super 14--wedstryd teen die Crusaders en daar sal maar gewag moet word om te sien of dit die oplossing gaan wees vir die sukkellende Bloemfonteiners.
Die GWK-Griekwa-senter Barry Geel maak sy debuut en sal saam met Corne Uys die senterpaar vorm en kan seer sekerlik nie swakker as Meyer Bosman of Robert Ebersohn vaar nie.
Op losskakel kry die stoutseun van die groep, Riaan Viljoen kans om die nommer tien trui oor die kop te trek in die plek van Naas Olivier wat nie n die 22-tal is nie. Sarel Pretorius is gekies bo Tewis de Bruyn, wat eintlik van die begin so moes wees.
Davon Raubenheimer vervang Kabamaba Floors op agtsteman wat na verlede week se simpel boorvat op die Brumbies se heelagter Julian Huxley, en is gevolglik uit die res van die Super 14-reeks nie beskikbaar nie na hy vir vyf weke geskors is. Hy sal eers weer in die Curriebeker-reeks in aksie wees. Danwel Demas maak sy terugkeer na die span in die plek van die jong Wilmaure Louw, en hy sal nou sy kans moet gebruik, want sy vertonings die afgelope tyd is nie juis iets om oor huistoe te skryf nie.
Luister gerus na die onderhoud wat ek met afterlyn-afrigter Hawies Fourie gevoer het.
Cheetahs: Hennie Daniller, Danwel Demas, Corné Uys, Barry Geel, Jongi Nokwe, Riaan Viljoen, Sarel Pretorius, Davon Raubenheimer, Barend Pieterse, Hendro Scholtz, Waltie Vermeulen, Izak van der Westhuizen, WP Nel, Adriaan Strauss (kapt), Coenie Oosthuizen. Plaasvervangers: Ryno Barnes, Wian du Preez, Nico Breedt, Phillip Van der Walt, Tewis de Bruyn, Meyer Bosman, Robert Ebersohn.