Rugby
Griekwas slaggereed vir Curriebeker-seisoen─── MORGAN PIEK 13:36 Mon, 04 Apr 2016

Die Curriebeker skop die week af met die kwalifiseringstoernooi wat Donderdagaand begin.
Die Griekwas en die Griffons is die eerste twee spanne wat in aksie sal wees wanneer hulle sake op Griekwa-park in Kimberley gaan uitspook.
Die Poubloues word deur RJ Liebenberg aangevoer, en die kookwater-senter, Jonathan Francke, het vir OFM Sport gesê dat Liebenberg sonder twyfel die beste kaptein is met wie hy al te doen gehad het by dié span.
"Ek dink hy is vir my so ve rdie beste kaptein by Griekwas, want hy is 'n mens-mens en kom met almal oor die weg.
"Die feit dat hulle hom kaptein gemaak het, maak dit net nog beter hier by die Griekwas want almal luister na wat hy te sê het en was ons plan en ons doel is. Dit is goed vir ons."
Hulpafrigter, Pieter Bergh, is van mening dat hulle hul seisoen op vier kernwaardes gaan bou en definieer.
"Peter Engeldow, ons hoofafrigter, het van die begin af gesê hy wil die trots in die Griekwa-trui herstel.
"Dis maklik om net vir spelers te sê of te vra om in te koop, maar ons het gaan sit en gevra hoe gaan ons dit doen.
"Ons het met die span gesit en vier kernwaardes vir die span gekry wat ons as 'n span gaan definieer en waarvoor ons as 'n span staan.
"Ons het op vier waardes ooreengekom - werksetiek, passie, integriteit en onbaatsugtigheid, wat in Engels 'selflessness' is."
Donderdagaand se kragmeting in die Diamantstad skop om 19:00 af.
Griekwas - 15 Eric Zama, 14 Ederies Arendse, 13 AJ Coertsen, 12 Jonathan Francke, 11 Alshaun Bock, 10 Clinton Swart, 9 Poerie van Rooysen, 8 Jason Fraser, 7 RJ Liebenberg (Kaptein), 6 Wendal Wehr, 5 Jaco Nepgen, 4 Mzwanele Zito, 3 Stephan Kotze, 2 AJ le Roux, 1 Steph Roberts.
Plaasvervangers – 16 Marius Fourie 17 Ewald van der Westhuizen, 18 Jonathan Adendorf, 19 Jono van Rensburg, 20 Steven Meiring, 21 Tian Dorfling, 22 Ntabeni Dukisa.
Morgan Piek/OFM News