Rugby
Annandale lei Perstruie teen Griekwas─── MORGAN PIEK 11:22 Tue, 05 Apr 2016

Gavin Annandale sal die Griffons Donderdag aanvoer wanneer hulle kragte met die Griekwas in die openingswedstryd van die Curriebekerreeks meet.
Annandale, wat verlede jaar vir die Boland Kavaliers op slot uitgedraf het en ook die span gelei het, is die Griffons se vierde kaptein die seisoen nadat senters Japie Nel en Joubert Engelbrecht, asook losskakel, George Whitehead, die rol verrig het.
Heelagter, Taro Maarman, draf vir sy 110de wedstryd uit vir die Perstruie, terwyl die Griekwas se stut, Steph Roberts, in sy 150ste eersterangse wedstryd speel.
Whitehead, wat hom by die span aangesluit het ná 50 wedstryde vir die EP Kings, dra die nommer 10-trui met die woelige skrumskakel, Boela Abrahams, as sy skakelmaat.
Daar is ook heelwat spelers wat hul Curriebekerbuigings maak en hulle sluit in vleuel Selwyn Davids, senter Duan Pretorius, asook die flank, Thato Mauvundla.
Donderdagaand se wedstryd op Griekwa-park in Kimberley skop om sewe-uur af.
Griffons - 15 Taro Maarman, 14 Selwyn Davids, 13 Vuyo Mboto, 12 Duan Pretorius, 11 Norman Nelson, 10 George Whitehead, 9 Boela Abrahams, 8 Martin Sithole, 7 Frans Sisita, 6 Thato Muvundla, 5 Samora Fihlani, 4 Gavin Annandale (kaptein), 3 Heinrich Roelfse, 2 Kwezi Mkhafu, 1 Danie van der Merwe.
Plaasvervangers - 16 Niel Rautenbach, 17 PW Botha, 18 Wayne Ludick, 19 De Wet Kruger, 20 Vincent Maruping, 21 Malcolm-Kerr Till, 22 Coenie van Wyk.
Morgan Piek/OFM News