Rugby
‘Dit was lekker!’ – Swanepoel se terugkeer na rugbyveld─── MORGAN PIEK 10:16 Thu, 08 May 2025

Die Namibiese internasionale losskakel, Tiaan Swanepoel, is verheug om homself uiteindelik ’n Toyota Cheetah te kan noem ná ’n paar maande van frustrasie in Bloemfontein.
Swanepoel het reeds in Maart by die Cheetahs aangesluit, maar weens administratiewe probleme het hy eers verlede week sy buiging gemaak tydens die 106–7 oorwinning teen die Border Bulldogs in Bloemfontein in ronde agt van die SA Beker.
Swanepoel het van die bank af gespeel en daarin geslaag om ’n drie te druk en ses doelskoppe deur die pale te jaag in die oorwinning teen die span van Oos-Londen. Sy bydrae het gehelp om die Cheetahs vir die halfeindronde te laat kwalifiseer, terwyl hulle ook hul plek in die Premier-afdeling van die Curriebeker verseker het.
Tiaan Swanepoel. Foto: Morgan Piek
Swanepoel sal waarskynlik weer hierdie naweek speel in die laaste ronde se buurstryd tussen die Cheetahs en die Suzuki Griekwas Kimberley – tyd sal leer of hy aan die begin van die wedstryd gaan uitdraf, of as ’n impakspeler ingespan sal word.
Swanepoel het aan OFM Sport gesê dat hy baie bly is om uiteindelik weer te kon speel ná ’n frustrerende tyd op die kantlyn, al het die lugdruk hom ietwat getoets.
“Ek moet sê, dit was nogal lekker gewees, veral teen Grens – dis ’n wedstryd waar jy baie goed kan probeer, en dit was lekker hardlooprugby,” sê die speler wat bekend is vir sy kanonpoot.
“Ek het dit baie geniet, het net bietjie moeg geraak, maar dit was baie lekker gewees.
“Die lugdruk was nog so bietjie van ’n uitdaging, maar dis ook omdat ek lanklaas gespeel het – dit is wat my ook ’n bietjie moeg gemaak het in die wedstryd.”
Die speler wat Namibië se begin-losskakel was tydens die 2023 Rugbywêreldbeker in Frankryk, het bygevoeg dat die buurstryd teen die Griekwas hierdie naweek weer ’n goeie uitdaging sal wees. Dit gaan baie moeiliker wees, maar hy sien daarna uit.
“Die Griekwas en die Cheetahs – dis, hoe kan ek sê, ’n groot wedstryd. Hulle gaan hard kom, maar ons is ook gereed vir hulle.
Tiaan Swanepoel. Foto: Morgan Piek
“Ons het nog nie teen hulle gespeel hierdie seisoen nie, maar dit gaan ’n grote wees. Ons weet ons mag hulle dalk volgende week weer kry.”
Tans lyk dit of die Griekwas en Cheetahs mekaar wéér gaan pak in die halfeindronde, en die buurstryd op Saterdag sal bepaal of die uitkloprondte-wedstryd in Kimberley of Bloemfontein plaasvind.
Saterdag se buurstryd tussen die Poubloues en die Blikore by die Suzuki-stadion sal om 15:00 afskop.