Rugby
Junior Springbokke dring deur na halfeindstryd in Italië─── MORGAN PIEK 07:54 Thu, 10 Jul 2025

Die Junior Springbokke het hul plek in die halfeindstryd van die o.20 Wêreldrugbykampioenskap in Italië bespreek.
Die Baba-Bokkies het Donderdag vir Skotland by Stadio San Michele in Calvisano in hul laaste groepwedstryd ’n hewige 73–14 pakslae gegee vir hul derde agtereenvolgende sege, nadat hulle vroeër Australië en Engeland geklop het.
Jaco Williams en Ceano Everson het elk twee van Suid-Afrika se elf drieë gedruk, terwyl die oud-Grey Kollege-losskakel Ian van der Merwe vyf doelskoppe deur die pale gejaag het. Vusi Moyo was op sy beurt suksesvol met vier vervyfskoppe.
Oliver Reid. Foto: Wêreldrugby
Ná afloop van die groot sege was Suid-Afrika se afrigter vol lof vir sy span en die karakter wat hulle gewys het om hul plek in die uitkloprondtes te bespreek.
“Dit was ’n volwasse poging en ons groep is in ’n goeie plek – ek dink ons agterste drie was uitstekend by die afbreekpunte,” het Foote gesê.
“Hulle is ’n nederige klomp, en onmiddellik ná die wedstryd in die kleedkamer was hulle bly, maar daar was ook ’n duidelike doelgerigtheid om aan te beweeg na die volgende taak.
“Sommige van daardie drieë was puik, en die meeste daarvan was die gevolg van die werk wat by die afbreek gedoen is en die reusepoging van die voorspelers wat vir die seuns ’n uitstekende platform gegee het. En toe hulle die ruimte voor hulle gekry het, was hulle regtig opwindend in aanval.
“Die ondersteuningslyne van die ouens was vandag uitstekend. Die hele span was net so klinies in hul benadering. Skotland was dapper in die tweede helfte – hulle het ons drie keer opgehou en in die stryd gebly.”
Foote het erken dat dit, na drie goeie seges in hul Groep A-wedstryde, ’n moeilike taak sal wees om sy span te kies vir die halfeindstryd.
Junior Springbok t. Skotland. Foto: Wêreldrugby
“Dis ’n moeilike probleem om te hê, en ek hou aan praat oor die talent wat ons in die land het. Dit gaan ’n baie moeilike taak wees, en dit sal swaar wees om sekere ouens uit te laat.”
Die Junior Springbokke sal Maandagaand om 20:30 teen Argentinië te staan kom in die halfeindstryd. Die ander halfeindstryd sal tussen Nieu-Seeland en Frankryk beslis word.
Junior Springbokke: Drieë - Jaco Williams 2, Thando Biyela, Dominic Malgas, Oliver Reid, Gilermo Mentoe, Jean Erasmus, Ceano Everson 2, Stephanus Linde, Haashim Pead Doelskoppe - Vusi Moyo 4, Ian van der Merwe 5
Skotland: Drieë - Seb Stephen, Oliver Finlayson-Russell Doelskoppe - Matthew Urwin, Jack Brown