On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

South Africa

Durban-burgemeester borgtog toegestaan

───   07:25 Wed, 15 May 2019

Durban-burgemeester borgtog toegestaan | News Article

Zandile Gumede, eThekwini-burgemeester, en nog twee verdagtes het in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Durban verskyn op 'n string aanklagte van korrupsie.


Gumede en Mondli Mthembu, adjunkstreeksekretaris, het glo verlede maand se optog na die Durbanse stadsraad georkestreer waartydens die verwydering van die stadsbestuurder geëis is omdat hy glo nie 'n betaling wou afteken vir 'n onwettige tender nie.

Dié inligting het tydens die hofverskyning aan die lig gekom toe die Valke se ondersoeker in die saak se beëdigde verklaring in die rekord ingelees is. Gumede, voorsitter van die ANC se eThewini-streek, het haarself die oggend voor haar hofverskyning oorgegee. 

Sy, Mthembu en 'n diensverskaffer, is almal op borgtog van R50 000 elk vrygelaat. Die drie sal weer op 8 Augustus saam met die ander beskuldigdes in die saak in die hof verskyn. Die beweerde bedrog hou verband met 'n tender in Durban se departement vir vaste afval waardeur diensverskaffers na bewering groot bedrae geld betaal is, maar geen dienste gelewer is nie. 

Maroela Media het vroeër berig daar is vandeesmaand reeds talle ander mense, onder wie die departement se adjunkhoof, Robert Abbu (62), en die stad se verskaffingskettingbestuurder, Sandile Ngcobo (41), in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog in verband met dieselfde tender. 

Die ander verdagtes is Hlenga Sibisi (43), Mzwandile Dludla (24), Sinthamone Ponnan (55), Sithulele Mkhize (38), Bongani Dlomo (53) en Prabagaram Pariah (61). Hulle het reeds in die handelsmisdaadhof verskyn en is ook op borgtog van R50 000 elk vrygelaat. Volgens die Valke gaan die ondersoek na korrupsie in die eThewini-metro voort.


ANA

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.