South Africa
#CoronavirusFS: Skool bied WhatsApp-wildsveiling aan─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:22 Wed, 13 May 2020
Die Primêre Skool Trompsburg bied vanoggend 'n WhatsApp-wildsveiling aan om geld in te samel vir die skool.
Louwrens Strydom, die skoolhoof, sê die gemeenskap trek swaar in die grendeltydperk weens die Covid-19-pandemie en talle ouers werk nie in die stadium nie. Hulle kan dit nie bekostig om hul kinders se skoolfondse te betaal nie.
Daarom het die gemeenskap, onder leiding van die Trompsburg-landbouvereniging, wild- en jagpakkette geskenk vir die veiling wat om 10:00 begin.
Strydom sê daar is 31 lotte wat onder meer 42 Springbokke, 23 blesbokke, 'n swartwitpens en 'n gemsbok insluit.
Plaaslike sakeondernemings is ook betrokke ten opsigte van die verwerking van die vleis. Hy sê daar is nog tyd vir mense om te registreer vir die veiling.
Strydom sê die bie-proses is maklik. 'n Lot sal op die Whatsapp-groep verskyn met 'n reserweprys. Deelnemers kan dan hul prys aandui.
Hy sê ná afloop van die veiling sal kopers geskakel word om reëlings te tref ten opsigte van die lewering van dit wat hulle gekoop het. Om te registreer, WhatsApp Strydom by 084-252-9461.
OFM-nuus
