South Africa
#Covid19: Minister besoek Oos-Kaap─── 06:52 Thu, 26 Nov 2020
Die minister van Gesondheid, Zweli Mkhize, besoek vandag saam met ‘n inter-ministeriële taakspan die Nelson Mandelabaai-metro in die Oos-Kaap te midde van ‘n sterk opswaai in coronavirus-gevalle in die gebied.
Die metro het die afgelope paar weke ontwikkel in ‘n brandpunt. Byna die helfte van daaglikse nuwe gevalle kom in Nelson Mandelabaai voor.
Die fokus sal wees op toetsing, opsporing en bewusmaking omdat dit voorkom asof die nie-nakoming van Covid-19 regulasies die grootste rede is vir die toename in virusinfeksies. Die aantal Covid 19-gevalle in Suid-Afrika het intussen tot meer as 775 500 toegeneem nadat ‘n rekordgetal van 3250 gevalle die afgelope verslagtydperk aangemeld is.
Altesaam 118 Covid-verwante sterftes is aangemeld waarvan 51 in die Oos-Kaap en 24 in die Vrystaat is. In totaal het 21 292 mense weens Covid 19 gesterf.
Die Departement sê egter dit is nodig dat syfers in Gauteng nagegaan moet word. Om die rede is geen syfers oor die herstelkoers of oor aktiewe gevalle beskikbaar gestel nie.
SABC-nuus
