South Africa
#CoronavirusSA: 'Parasietdoder nie vir mense'─── 11:40 Tue, 12 Jan 2021
Suid-Afrikaners word gewaarsku om nie die parasietdoder ivermektien te gebruik as 'n voorkomende of genesende behandeling vir COVID-19 nie.
Die internasionale debat oor die doeltreffendheid van die middel teen die coronavirus einde verlede jaar het plaaslike oewers bereik.
Dr. Peter Oberem, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse verskaffer van dieregesondheidsprodukte, Afrivet, het gesê dat hoewel 'n aantal internasionale wetenskaplike artikels die teorie ondersteun dat ivermektien COVID-19 infeksies moontlik kan voorkom of genees, is Suid–Afrika se ivermektienprodukte nie geregistreer of getoets vir veilige menslike gebruik nie. Die Suid-Afrikaanse Regulerende Owerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) bevestig in 'n verklaring dat ivermektien nie goedgekeur is vir die gebruik by mense nie en die gebruik van die middel kan moontlik tot skadelike nagevolge of selfs tot die dood lei.
Inligting verskaf deur die Barcelona Institute for Global Health (ISGlobal) het gesê dat daar dele van die wêreld is waar ivermektien goedgekeur is om spesfifieke gesondheidsprobleme by mense te behandel. Dit word goedgekeur vir gebruik teen die parasitiese rondewurm, Strongyloides stercoralis; en vir gebruik teen rivierblindheid, veroorsaak deur die parasitiese wurm, Onchocerca vovulus. In Europa is dit goedgekeur teen Limfatiese filariasis, wat veroorsaak word deur filariêre parasiete, en teen scabies wat veroorsaak word deur die menslike jeukmyt, terwyl dit in Australië goedgekeur word vir gebruik teen erge korsies.
TLU SA het tot die debat toegetree en 'n verklaring uitgereik waarin hy die regering versoek om op alle silinders te vuur om soveel as moontlik wetenskaplik bewese feite oor ivermektien te versamel en te toets teen COVID-19. As dit suksesvol blyk te wees, moet die regering die gebruik daarvan aanmoedig, het TLU SA gesê.
OFM-nuus/Mia-Leigh Cloete
