South Africa
AfriForum eis antwoorde oor diplomaat se beweerde vernietigende gedrag─── 14:43 Wed, 26 May 2021
Die burgerregteorganisasie AfriForum eis antwoorde rakende die vernietigende gedrag van adv. David Kweli Nkosi, ’n Suid-Afrikaanse diplomaat, oorsee.
AfriForum se regspan het vandag ’n formele PAIA-versoek en aanmaningsbrief aan die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO) gestuur aangaande nuus dat Nkosi, wat na bewering in Augustus 2020 sy huurwoonstel in Wene met skade van omtrent R714 000 agtergelaat het, ook nou van soortgelyke aantygings by sy vorige sending beskuldig word. Daar word berig dat Nkosi tot nou toe nie die R53 612 terugbetaal het vir skade aangegaan terwyl hy ’n diplomaat in Indië was nie.
AfriForum het vantevore ’n brief gestuur aan die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, en DIRCO rakende die Wene-insident, maar het nog geen antwoord ontvang nie.
“AfriForum glo ten sterkste dat die diplomaat, mnr. Nkosi, uit sy eie sak vir die skade moet betaal. Daar kan nie van Suid-Afrikaanse belastingbetalers verwag word om op te dok vir die voortgesette vernietigende optrede van ’n diplomaat nie. Mnr. Nkosi moet verantwoordelik gehou word vir sy onaanvaarbare optrede oorsee,” sê Ernst van Zyl, AfriForum se veldtogtebeampte vir strategie en inhoud.
AfriForum wag vir ’n spoedige antwoord van DIRCO.
Verklaring verskaf.
