South Africa
Brand verwoes oord─── 10:27 Sun, 12 Sep 2021
Die Polentswa Lodge aan die Botswana-kant van die Kgalagadi-oorgrenspark is Vrydagaand in ‘n brand verwoes.
Volgens Sanparke se Genevieve Maasdorp het veldwagters aan die Suid-Afrikaanse kant reeds Donderdag begin help om veldbrande te beheer om te verhoed dat dit na ander gebiede versprei.
Maasdorp sê Sanparke kan nie namens die bestuur aan die Botswana-kant kommentaar lewer oor die insident nie, maar sy kan bevestig dat Suid-Afrikaanse veldwagters gehelp het om die veldbrande te bestry.
Die veldbrande woed volgens inligting reeds meer as ses weke in Botswana, en het versprei na die suidelike grens met Suid-Afrika.
Minstens 16 000 hektaar in die Kalahari is reeds vernietig.
Die volle omvang van die brandskade is egter onbekend. Geen beserings is aangemeld nie.
OFM-nuus/Roderick Titus
