South Africa
Om leeus te troetel kan lei tot hul 'uitwissing'─── HEIDRÈ MALGAS 08:34 Mon, 31 Oct 2022

’n Studie het bevind dat die praktyk van die troeteling van leeuwelpies (cub-petting) negatiewe welsynsgevolge vir groot katte inhou. Dit veroorsaak stresgedrag by leeus wat deur toeriste, wat die sogenaamde "Simba-effek" soek, hanteer word.
Die studie spreek die probleem van toerisme gemik op welpietroeteling aan, en die skade wat dit aan leeus veroorsaak.
Cub-petting is ’n term vir die gebruik van jong diere, hoofsaaklik groot katte soos leeus en tiere, as speelgoed en/of foto-rekwisiete vir betalende klante.
Elize Parker, woordvoerder van die Four Paws-dierewelsynsorganisasie, sê pleks daarvan om plekke te besoek waar mense met leeuwelpies speel, stel hulle voor dat diereliefhebbers eerder versorgingsoorde vir groot katte besoek wat nie met hulle teel nie, nie met leeus handel dryf of interaksies met diere aanbied nie.
Die studie sê verder dat cub-petting-fasiliteite die aanraking van leeus normaliseer en gevangenskap van leeus laat voortduur. Hierdie kwessies het implikasies, nie net vir die leeubedryf in Suid-Afrika nie, maar vir die algehele welsyn en bewaring van ’n spesie.
Die direkteur van Four Paws in Suid-Afrika, Fiona Miles, sê die studie wys hoe niksvermoedende diereliefhebbers, deur die ondersteuning van die troetel-toerismebedryf, kan bydra tot die uitwissing van die leeubevolking.
“In plaas daarvan om ’n welpie-troetelfasiliteit te besoek, ondersteun eerder ’n ware grootkat-versorgingsoord wat ’n fasiliteit is wat nie teel, handel dryf of interaksies bied nie, maar eerder ’n tuiste bied aan diere wat nie na die natuur teruggebring kan word nie,” sê Miles.