On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

South Africa

Krugerwildtuin verskerp veiligheid voor feestyd

───   08:50 Fri, 11 Nov 2022

Krugerwildtuin verskerp veiligheid voor feestyd | News Article
FOTO: Krugerpark

Sanparke sê hy gaan tegnologie inspan om veiligheidsmaatreëls by die Krugerwildtuin se toegangshekke te verskerp, ten einde misdaad tydens die feestyd te help voorkom.

’n Woordvoerder van Sanparke, Ike Phaahla, sê wetstoepassingsbeamptes sal meer gereeld deursoek-operasies in die wildtuin hou om onder andere smokkelaars vas te trek.

Dié verskerpte maatreëls volg ná die moord op ’n 67-jarige Duitse toeris verlede maand by die wildtuin se Numbi-hek. Phaahla sê die maatreëls is vir die beskerming van besoekers aan die wildtuin.

Die waarnemende besturende direkteur van die Krugerwildtuin, Danny Govender, het aan Times Live gesê dat veldwagter- en veiligheidspatrollies, met die bystand van honde-eenhede op die spoor van stropers, sal verbeter word.

LEES OOK: Sanparke open eerste aanlyn besprekingskantoor

“Sanparke se omgewingsondersoekeenheid, wat suksesvol is in bedrywighede buite die Krugerwildtuin, sal by ander wetstoepassingsagentskappe aansluit om misdadigers in aangrensende dorpe te takel. Hierdie operasies sal gerig wees op diegene wat gewere en ammunisie verskaf en stropers werf om misdade te pleeg,” sê hy.

“Die operasies sal deur gemeenskapslede, wat dikwels goeie wenke deurgee wat tot arrestasies en skuldigbevindings lei, versterk word.”

Govender sê meer voertuie in die park sal deursoek word vir moontlike smokkelary, die verifikasie van identiteite en besprekingskwitansies.

Ander tegnologieë wat toegepas word, sluit in nommerplaat-identifikasie, afstandmonitering van voertuie, waarneming per radar en die gebruik van infrarooi-kameras in die nagdonker.

Voortgesette samewerking met Mosambiekse owerhede oor stropery lewer steeds positiewe resultate, met 'n paar bendeleiers wat nou agter tralies is, sê Govender.

"Data oor renosterstropery dui op 'n afwaartse neiging"

“Gereelde vergaderings word gehou om die bedreiging vanaf Mosambiek te evalueer en planne te implementeer, wat gelei het tot die arrestasies van stropers nog voordat hulle ’n dier kon doodmaak.”

“Daar was 'n toename in strikke binne die park wat gelei het tot ernstige beserings aan diere, wat die ingryping van veeartse genoodsaak het. Sanparke se ereveldwagters is elke naweek hard aan die werk om soms tot ’n duisend strikke te verwyder.”

Govender sê data oor renosterstropery dui op 'n afwaartse neiging en hulle wil dit so hou.

“Ons het slimkamera-tegnologiestelsels by die meeste brandpunte geïnstalleer, wat gehelp het met die aankeer van vermeende stropers en die beslaglegging van hoëkaliber-jaggewere en -ammunisie.

“Ons toegewyde veldwagters word ook gemotiveer en aangemoedig deur die suksesvolle inhegtenisnemings en skuldigbevindings van stropers. Die stryd om ons natuurlike erfenis te beskerm is egter nog lank nie verby nie.”

Tussen Julie en September het die gebruik van tegnologie gelei tot die inhegtenisneming van 10 vermeende stropers en die beslaglegging van ses vuurwapens.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.