On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

South Africa

Phala Phala-verslag Woensdag aan Parlement oorhandig

───   08:14 Wed, 30 Nov 2022

Phala Phala-verslag Woensdag aan Parlement oorhandig | News Article
President Cyrill Ramaphosa. FOTO: Getty Images

Die Artikel 89-onafhanklike paneel wat ondersoek ingestel het of President Cyril Ramaphosa sy ampseed oortree het, sal vandag sy verslag daaroor aan die Speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, oorhandig.

Die paneel is saamgestel nadat die African Transformation Movement (ATM) ‘n mosie van wantroue teen die president ingedien het, op grond van bewerings deur die gewese hoof van Staatsveiligheid, Arthur Fraser.

Fraser het beweer dat Ramaphosa byna drie jaar gelede die diefstal van miljoene Amerikaanse dollar op sy Phala Phala-plaas in Limpopo probeer toesmeer het. 

Die SAUK berig dat die drie lede van die paneel, onder leiding van afgetrede hoofregter Sandile Ngcobo, moes bepaal of Ramaphosa wel aanspreeklik is vir die beweerde verswyging van die diefstal van buitelandse valuta.

Die paneel het tot 30 November 2022 uitstel gekry om sy ondersoek af te handel.

ALSO READ: Ramaphosa will gladly step aside if charged: Magwenya

Die paneel se hooftaak was om ATM se mosie te evalueer wat vra dat Ramaphosa kragtens Artikel 89 van die Grondwet uit sy amp onthef moet word, omdat hy na bewering sy ampseed oortree het. Die party het beweer Ramaphosa het die diefstal van Amerikaanse dollars wat op sy plaas gehou is, verswyg.

'n Artikel 89-paneel word ingevolge Reël 129 van die Nasionale Vergadering-reëls gestig. Die reël gee 'n uiteensetting van al die prosesse wat gevolg moet word indien 'n president 'n mosie in die gesig staar wat deur 'n lid van die Nasionale Vergadering ingedien is ingevolge Artikel 89 van die Grondwet.

Dit is ontwikkel na aanleiding van 'n suksesvolle Konstitusionele Hof-uitdaging deur die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) teen die voormalige Speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, in Desember 2017.

Die nuwe reël is in November 2018 deur die Parlement goedgekeur. Tydens die debat het ‘n LP van die EFF, Mbuyiseni Ndlozi, verklaar dat die eerste president waarop die reël getoets gaan word, President Ramaphosa sal wees.

Ndlozi is deur die Huisvoorsitter, Mmatlala Boroto, buite orde verklaar en uitgeskop.

ALSO READ: ANC integrity commission distances itself from leaked Phala Phala draft report

Vier jaar later word die reël wél op die president getoets nadat die ATM-leier, Vuyo Zungula, hom op Reël 129 (A) en Artikel 89 van die Grondwet beroep het wat bepaal dat ‘n president uit sy amp onthef kan word.

Ramaphosa is gevra om sy antwoorde op die inligting wat deur die ATM, die EFF en die United Democratic Movement (UDM) oor die Phala Phala-aangeleentheid verskaf is, in te dien. 

Hy het op 6 November 2022 die sperdatum gehaal en sy antwoorde by die paneel ingedien. Die presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, het dit 'n dag ná die sperdatum bevestig.

“President Ramaphosa het nog altyd sy ampseed nagekom en is 'n voorbeeld in sy respek vir die Grondwet, sy instellings, behoorlike proses en die oppergesag van die reg. President Ramaphosa ontken kategories dat hy hierdie eed op enige wyse oortree het, en ontken dat hy skuldig is aan enige van die aantygings wat teen hom gemaak is,” sê Magwenya.

Die ATM sê hy sien uit na die paneel se verslag.

“Ons is vol vertroue dat die paneel sy werk gedoen het en nie vir verdere uitstel sal vra nie. Hierdie aangeleentheid sal bespreek word en die Huis van die Parlement sal ‘n duidelike aanduiding gee, natuurlik nadat die aanbeveling van die paneel in ag geneem is. Ons glo dat dit alles gedoen sal word voor die einde van die termyn van hierdie Parlement,” sê die woordvoerder van ATM, Sibusiso Mncwabe.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.