On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

South Africa

Literêre grote se lewe gedenk

───   13:45 Fri, 06 Jan 2023

Literêre grote se lewe gedenk | News Article
FOTO: Facebook/Vriende van NALN

Vóór sy dood — in ’n gedig van net vier strofes — het die Suid-Afrikaanse skrywer, digter, dramaturg, radioman en professor, wyle dr. Dolf van Niekerk (93), die impak beskryf wat Covid-19 op sy gestel gehad het.

“Korona het my gesig gesteel
my hart se klop heringedeel
die lyf tot vel en been gestroop
dat ek met kruk en genade loop.”

Van Niekerk se gedenkdiens is Saterdag 14 Januarie om 11:00 in die Gereformeerde Kerk Meyerspark in Pretoria en sal deur ds. Dreyer Potgieter gelei word.

Die gemeente het een van sy oudste lidmate se nagedagtenis geëer. “Dit is met leedwese dat ons ook die afsterwe van oom Dolf van Niekerk in die ouderdom van 93 bekend maak. Aan sy familie en vriende ons innige meegevoel.”

Dié boorling van Edenburg in die Suid-Vrystaat is op 31 Desember 2022 in Pretoria oorlede. 

Vyf skoolvriende op Edenburg in die Vrystaat, 1946, wat ook die matriek-uitblinkers in taal was. Tweede van regs staan die skrywer Dolf van Niekerk, na wie vriende liefderyk verwys het as “Dolfie”. FOTO VERSKAF: Jacques Coetzer

Nadat hy in 1946 aan die Hoërskool Edenburg gematrikuleer het, het hy ’n BA-graad van die Universiteit van die Vrystaat cum laude behaal. Hy het ook 'n rol in die akademie gespeel en was 'n emeritus-professor aan die Universiteit van Pretoria tot sy aftrede in 1994.

“Ondanks die aftakeling deur hierdie siekte en verswakking weens die ouderdom, het sy gees en verstand tot die einde helder gebly. So kon hy ná sy siekte nog die digbundel Splintertyd (Imprimateur Pretoria, 2021) van 62 gedigte publiseer, waarin bogenoemde kort vers opgeneem is,” het Carools Reinecke van die Meyerspark-gemeente in ’n huldeblyk geskryf.

LEES OOK: Literêre grote gegroet

“Alhoewel hy as skrywer en digter onthou sal word, was hy in sy loopbaan ‘n landbouwetenskaplike, en later Direkteur van Landbou-inligting in die Departement van Landbou. Hy het sy filosofies-etiese siening oor grond en eienaarskap in ‘n proefskrif gepubliseer (Universiteit Pretoria, 1982), en skryf: ‘Uit die oogpunt van die Christelike etiek is dit van die grootste belang dat besit steeds as geskenk beskou word; dat dit in die besit gaan om ‘n grootheid wat transendente oorsprong het. Deur dié laaste ontvang besit in die menselewe dan ook sy goddelike sanksie. Rentmeesterskap. Rentmeesterskap wat verantwoordelikheid impliseer; verantwoordelikheid jeens die meester se besitting.’

“In 2021 is sy bydrae vereer met ‘n Eredoktorsgraad in Filosofie van die Universiteit Vrystaat, die alma mater van sy voorgraadse studie. Ook ons as Gemeente Meyerspark eer die nagedagtenis van oom Dolf van Niekerk,” sluit Reinecke af.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.