South Africa
Regering gerat vir gure weer─── 09:36 Sat, 07 Jan 2023
Die Suid-Afrikaanse regering het die provinsiale gesamentlike operasiesentrums geaktiveer om hulp te verleen in gebiede wat tans swaar reën ervaar.
Gure weer het reeds in die verlede gelei tot modderstortings en grootskaalse infrastruktuurskade sowel as lewensverlies.
Die waarnemende direkteur-generaal vir die regering se kommunikasie-inligtingsdienste, Micheal Currin, sê rampbestuurspanne en nooddienste is in alle provinsies op 'n hoë gereedheidsgrondslag, met 'n fokus op gebiede soos Kwazulu-Natal en Mpumalanga, waar swaar reën voorspel word.
Hy sê dit is van kardinale belang dat inwoners oplettend moet wees vir modderstortings asook waterstrome – wat nie onderskat moet word nie omdat dit noodlottige gevolge kan inhou.
Hy maan ouers om hulle kinders ten alle tye op te pas en eerder binnenshuis moet bly gedurende swaar reën.
Currin sê die hulp van plaaslike raadslede en gemeenskapsontwikkelingswerkers kan bekom word waar nodig om bystand te verleen in gevalle waar swaar reën mense se veiligheid bedreig.
OFM-nuus/Roderick Titus
