On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

SA Toerisme gaan voort ondanks kritiek teen Spurs-borgskap

───   15:16 Thu, 02 Feb 2023

SA Toerisme gaan voort ondanks kritiek teen Spurs-borgskap | News Article
PHOTO: Facebook

SA Toerisme (SAT) se waarnemende uitvoerende hoof, Themba Khumalo, het Donderdag bevestig dat hulle voortgaan met 'n voorgestelde borgskap van die Engelse span Tottenham Hotspur en dat die direksie voorwaardelike goedkeuring gegee het.

News24 berig SAT het onder skoot gekom ná die Daily Maverick se verslaggewing van sy voorgestelde planne vir 'n driejaarooreenkoms ter waarde van £42,5 miljoen (sowat R900 miljoen) wat aan die begin van die 2023/24 Engelse Premierliga-seisoen begin en aan die einde van die 2026/27-seisoen eindig.

Die nuus is Woensdag met skok van die Suid-Afrikaanse sportgemeenskap begroet, met federasies en atlete wat voorgestel het dat só 'n groot bedrag geld tot meer voordeel sou wees as dit aan plaaslike sportontwikkeling bestee sou word.

LEES OOK – Spurgate: Parties slam sponsorship of Tottenham Hotspur

In ruil vir die belegging, sal SA Toerisme se handelsmerk op sokker-uitrustings, in die agtergrond tydens onderhoude, in advertensies, tydens aankondigings en oefenkampe in Suid-Afrika vertoon word. Dit sluit ook gratis kaartjies en gasvryheid by stadions in.

Khumalo, wat nie in 'n posisie was om die syfers van die borgskap te bevestig of te ontken nie, het gesê SAT het die ooreenkoms voorwaardelik goedgekeur ná 'n reis na die Verenigde Koninkryk verlede maand. Verskeie belanghebbendes in die regering is egter nie hieroor gekontak nie.

"Die direksie het voorwaardelike goedkeuring gegee omdat dit kommersieel sin maak, maar dit benodig kommunikasie met die belanghebbendes om seker te maak dat hulle in lyn [met die besluit] is," het Khumalo aan verslaggewers gesê.

“Die belanghebbendes is nie betrek nie omdat ons dit sou doen voordat die inligting gelek is. Ons glo in die verlowing, maar daar is nie 'n getekende kontrak met die entiteit nie. Daar was 'n gesprek wat gelei het tot die voorwaardelike goedkeuring.

"Daar is geen getekende kontrak nie, maar daar is 'n voorneme. Ons moet omsigtigheid [aan die dag lê] en regeringsprosesse volg.

"Ander spanne het al toerismevennote gehad en Spurs nié. Ons het na elke span op daardie vlak gekyk."



Khumalo het gesê Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, kan nie oor die planne ingelig word voordat die direksie nie tot 'n finale besluit gekom het nie.

“Die minister kon nie ingelig word totdat die direksie 'n besluit geneem het om dit te ondersteun of nié te ondersteun nie,” het Khumalo gesê.

"Die ooreenkoms is tussen SA Toerisme en die beoogde party, so daar is geen agentskappe betrokke by die kommersiële reëlings nie."

Khumalo was vasbeslote om te sê die ooreenkoms gaan nie oor sokker nie, maar om toegang te verkry tot markte in die Verenigde Koninkryk wat graag na Suid-Afrika wil reis.

Khumalo het gesê die VK is een van Suid-Afrika se premium reismarkte en dat SAT nie sy begroting kan gebruik om dienslewering aan te vul wat deur ander ministeries se wetgewing gemagtig word nie.

"Die geld wat in toerisme belê word, is nie geld wat vir ander behoeftes in die land benodig word nie. Daar is departemente wat hulle daaraan toewy," het Khumalo gesê.

"Ons s'n is om geld te bestee om reisigers te oorreed om na Suid-Afrika te kom om geld te spandeer. Dit is wat ons moet doen.

“Ons ooreenkoms het niks met sokker te doen nie. Ons ooreenkoms is om toegang te verkry tot die kykers wat die sokker kyk, om deel te word van die reisigers na Suid-Afrika.

"Ons kry toegang tot die gehoor in die EPL sodat hulle na Suid-Afrika kan kom om geld hier as toeriste te spandeer. Hierdie ooreenkoms is nie geísoleer van ander ooreenkomste wat ons in plek het nie, want dit gaan nie oor sokker nie, dit gaan oor toeriste."

News24

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.