South Africa
Staatsrede van 2023 se reëlings op koers─── 13:57 Thu, 09 Feb 2023
Die Speaker van die Nasionale Vergadering het die Kaapstadse stadsaal die groen lig gegee om Donderdagaand se staatsrede aan te bied.
Speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula het saam met voorsitters en beamptes die gebied geïnspekteer wat Woensdag amptelik tot 'n parlementêre gebied verklaar is. Hulle was volgens eNCA tevrede met die reëlings sowel as die sitplekorde vir alle politieke partye. Paaie rondom die stadsaal sal ook vir verkeer gesluit wees.

Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het Dinsdagaand met repetisies begin. Die weermag het deur die middestad en na die Kasteel in Darlingstraat opgeruk.
Hulle het ook Woensdagaand, op die vooraand van president Cyril Ramaphosa se staatsrede, geoefen. Sona2023 sal Donderdagaand vir die tweede agtereenvolgende jaar in die stadsaal plaasvind nadat verwoestende brande in Januarie 2022 die parlementsgeboue beskadig het.
Members of the South African National Defence Force rehearsing for #SONA2023 to take place at the Cape Town City Hall on Thursday 9 February at 7pm. pic.twitter.com/kY4k0QjF5F
— Parliament of RSA (@ParliamentofRSA) February 7, 2023
Die Ekonomiese Vryheidsvegters het gedreig dat Ramaphosa se toespraak onderbreek gaan word weens die Phala Phala-skandaal.
Mapisa-Nqakula sê sy is bewus van die dreigemente om die staatsrede te ontwrig, maar verseker Suid-Afrikaners dat dit volgens die reëls van die Parlement hanteer sal word en dat dit sal voortgaan.
Sy het 'n beroep op mense gedoen om die belangrikheid van 'n staatsrede te verstaan, en bygevoeg dat dit gaan oor 'n land vir wie se vryheid ons so hard baklei het.
