South Africa
Trust betaal R1 miljard aan mynwerkers met tuberkulose, silikose─── 07:45 Thu, 02 Mar 2023
Die Tshiamiso-trust, wat gestig is om mynwerkers wat silikose of tuberkulose opgedoen het te vergoed, sê hy het die eerste R1 miljard van R5 miljard-skadevergoeding aan 11 316 eisers uitbetaal.
Die trust is in 2020 gestig ná 'n klasaksie deur huidige en voormalige mynwerkers en hul afhanklikes in Suider-Afrika wat weens silikose of werksverwante tuberkulose met permanente gestremdhede gelaat is.
‘n Skikkingsooreenkoms van R5 miljard is met ses mynmaatskappye, African Rainbow Minerals, Anglo American Suid-Afrika, AngloGold Ashanti, Harmony Gold, Sibanye Stillwater en Gold Fields bereik, berig Mining Weekly.
Die vergoeding wissel van R10 000 tot net minder as R534 000.
"Die eerste miljard rand wat aan meer as 11 000 gesinne uitbetaal is, is net die begin,” sê die trust se waarnemende hoof, Lusanda Jiya.
"Ons weet daar is baie frustrasies, en ons besef geen vergoeding sal ooit genoeg wees om die lyding van mynwerkers en hul gesinne ongedaan te maak nie. Ons is egter daartoe verbind om ons mandaat uit te voer en te verseker dat elke gesin wat in aanmerking kom vir vergoeding, dit ontvang.”
Die Tshiamiso-trust het 'n lewensduur van 12 jaar en eindig in Februarie 2031.
Wie kan eis?
Volgens die trust se webwerf kom mynwerkers wat van 12 Maart 1965 tot 10 Desember 2019 by die kwalifiserende goudmyne gewerk het, of hul afhanklikes as hulle oorlede is, moontlik in aanmerking vir vergoeding.
