On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Virtuele Afrikaanse uitgewery soek volgende Dana Snyman, Deon Meyer

───   MORNÉ VAN ROOYEN 08:58 Fri, 03 Mar 2023

Virtuele Afrikaanse uitgewery soek volgende Dana Snyman, Deon Meyer | News Article

’n Nuwe aanlyn uitgewery sê hulle het plek en ruimte vir almal wat besig is om aan, in en vir Afrikaans te werk, nie net gevestigde skrywers nie, maar ook jong en nuwe talent.

VivA Uitgewers maak hul virtuele deure oop op 12 April met die bekendstelling van ’n aanlyn Afrikaanse kortverhaalbundel met die gepaste titel “Aanlyn”, saamgestel deur Trisa Hugo en Annelies Viljoen. In wyd uiteenlopende bydraes sal lesers kan sien hoe verskillende skrywers dié begrip verskillend interpreteer.

“Die stories wissel van afspraakplatforms tot oorlogsrobotte, slim moorde en selfs ’n gees wat hulp soek,” vertel Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA, wat dié aanlyn uitgewery begin. Van die skrywers wat by hulle gaan uitgee, is Francois Bloemhof, Dibi Breytenbach, Alta Cloete, Helena Gunter en Gerrit Rautenbach.  

Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA

Coetzee vertel die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is ’n navorsingsinstituut en diensverskaffers vir Afrikaans in digitale kontekste. “Wat dit eintlik beteken, is dat ons ’n tegnologiese instelling is wat Afrikaans in die digitale ruimte bevorder. Ons wil graag hê dat ons gebruikers die tegnologiese toekoms van Afrikaans vandag reeds sal kan ervaar deur middel van die produkte wat ons ontwikkel wat hulle kan gebruik.”

Sy vertel VivA het in 2015 begin, eintlik as ’n enkele navorsingsprojek, wat net vyf jaar sou duur. “Maar soos wat VivA se gebruikers toegeneem het en ons produkaanbod in ’n wye verskeidenheid taalbehoeftes begin voorsien het, het VivA se direksie en personeel begin besef dat hierdie projek baie groter is as wat ons aanvanklik gedink het.”

VivA is ’n maatskappy sonder winsoogmerk. “Dit beteken ons is afhanklik van borgskappe,” vertel Coetzee, “en met die groei en toename in die produkte wat ons lewer en die wye verskeidenheid taalgebruikers in wie se behoeftes ons voorsien, het ons ook agtergekom dat ons ’n addisionele inkomstestroom vir VivA moet genereer.

“Dit is eintlik waar ons die droom begin droom het en dit begin uitvoer het om ’n aanlyn uitgewery in Afrikaans te stig onder die vaandel van VivA Uitgewers.”

Dié aanlyn uitgewery begin eers met ’n reeks kortverhale deur bekende skrywers, maar wil ook jong en nuwe skryftalent ontgin met ’n skrywerskompetisie. Hulle beplan om mettertyd akademiese literatuur, romans en niefiksie uit te gee, asook ’n reeks liefdesverhale.

“Maar wat so wonderlik is, is elke skrywer het sy of haar unieke manier om ’n storie te vertel,” vertel Coetzee, “en dis nie noodwendig net in een spesifieke genre nie. As jy kortverhale skryf, het jy die geleentheid om anders en oor ander onderwerpe te skryf, en vinniger te publiseer. Dit stel ons dan ook in staat om ’n wye verskeidenheid inhoud uit een skrywer se pen vir ons lesers te ontgin.”

Daarom is dit VivA Uitgewers ’n groot voorreg om saam met so ’n verskeidenheid bekende skrywers te werk, maar om ook nuwe skryftalent te ontgin. “Want,” vertel Coetzee, “die volgende Dana Snyman, Deon Meyer, hulle almal … hulle lê daarbuite en hulle wag vir ons om hulle talent te identifiseer en hulle die volgende groot naam in Afrikaans te maak.”

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.