South Africa
Jan Taks het geen rekord van Phala Phala-dollars─── 15:59 Mon, 06 Mar 2023
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het bevestig hy kon geen rekord vind van die geld wat deur die Soendanese sakeman Hazim Mustafa die land ingebring is nie.
Mustafa het in Desember 2019 'n groot bedrag geld die land ingebring en later $580 000 kontant aan president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-plaas betaal as 'n betaling vir beeste.
ECR berig die onthulling volg op 'n versoek van die DA-leier, John Steenhuisen, ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA).
“Ná 'n uitgebreide soektog na die rekord hiervan in verskeie SAID-verwerkingstelsels, en skakeling met die betrokke sake-eenhede binne die SAID wat hy geglo het in bewaring van en/of in besit is van en/of kennis dra van die rekords wat aangevra is, is die SAID-inligtingsbeampte in kennis gestel dat die rekord nie gevind kon word nie en/of dalk nie bestaan nie,” het die belastingowerheid Maandag in 'n verklaring gesê.
Steenhuisen sê dit bewys die geld is nooit by die SAID verklaar nie.
“Die Demokratiese Alliansie kan vandag onthul dat die Amerikaanse dollars wat in 'n rusbank op die Phala Phala-plaas van president Cyril Ramaphosa versteek is, nie aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verklaar is toe dit in Suid-Afrika ingebring is nie. Die DA het hierdie inligting direk van die SAID gekry na aanleiding van ’n versoek wat ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien is.”
Mustafa het tydens media-onderhoude beweer dat hy voldoen het aan die vereiste om die geld aan SAID-amptenare by OR Tambo Internasionale Lughawe te verklaar met sy aankoms in Suid-Afrika.
Steenhuisen sê dit is nou onmoontlik om te glo dat dit 'n wettige saketransaksie was.
“Die reaksie deur die SAID beteken dat ons nou weet dat die president van Suid-Afrika vuil dollars, wat die land onwettig binnegekom het, in 'n rusbank op sy wildplaas versteek het. Dit maak Ramaphosa se bewering dat hierdie fondse bloot die opbrengs van ’n saketransaksie was, onmoontlik om te glo, want wettige saketransaksies word gewoonlik nie vir die SAID in ’n rusbank weggesteek nie.”
