On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night OFM
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

South Africa

'Vrot appels van kabinet bloot rondgeskuif' - opposisiepartye

───   06:25 Tue, 07 Mar 2023

'Vrot appels van kabinet bloot rondgeskuif' - opposisiepartye | News Article
President Cyril Ramaphosa kondig skommelinge in sy kabinet aan. FOTO: Bloomberg

Suid-Afrika het Dinsdag ontwaak met ‘n herskommelde kabinet aan die stuur van sake. Terwyl sekere van president Cyril Ramaphosa se skuiwe verwelkom is, reken opposisiepartye die skommeling doen niks aan die land se wesenlike probleme nie.

Die leier van die Vryheidsfront Plus (VF Plus), dr. Pieter Groenewald, het die aanstelling van dr. Kgosiento Ramokgopa as Minister van Elektrisiteit gekritiseer en sê hy het desjare as burgemeester van die Pretoria-gebaseerde Tshwane-metro juis ‘n elektrisiteitsfiasko vir die stad veroorsaak.

'Minister van Elektrisiteit faal Tshwane'

“ ‘n Projek om slimkragmeters te installeer om die stad se slegte skuld te verminder en kontantvloei te verbeter, was ’n totale mislukking en het die stad R1,2 miljard gekos,” sê Groenewald.

Die VF Plus het Ramaphosa ook oor die kole gehaal omdat Bheki Cele steeds as Minister van Polisie dien “terwyl misdaad die land verswelg”.

Die Demokratiese Alliansie (DA) se leier, John Steenhuisen, het die veranderinge aan die kabinet as ‘n “onnodige opgeblasenheid, eerder as ‘n herskommeling” beskryf.

“Eerder om by die verbintenis van 2019 te hou en die aantal ministeries te verminder, het hy gekies om sy kabinet met 'n verdere twee ministeries aan te vul.

“Die Minister van Elektrisiteit en van Beplanning, Monitering en Evaluering, sal 'n bykomende R74 miljoen by die openbare loonrekening voeg, terwyl die nasie kwyn onder trae ekonomiese groei, werkloosheid en 'n kragkrisis wat werkgeleenthede teen rekordgetalle afskaal.”

Die DA het ook die nuwe Minister van Elektrisiteit gekritiseer oor sy mislukte slimkragmeterprojek.

“As Ramaphosa dink dat Ramokgopa die elektrisiteitskrisis gaan oplos, dan is permanente stroomonderbrekings onvermydelik.”

'Onmoontlik om prestasie van ministers te bepaal'

Die DA sê omdat daar geen aankondiging van prestasie-ooreenkomste gemaak is nie, is dit onmoontlik om te bepaal of enige van hierdie ministers presteer.

“Geen kundigheid uit die privaatsektor is ingebring nie, geen gevolge vir ministers wat in hul bestaande rolle misluk het nie, en geen ruggraat deur die President om van ministers wat Suid-Afrikaners herhaaldelik in 'n ramp gedompel het, ontslae te raak nie.”

Die leier van die Inkatha Vryheidsparty, Velenkosini Hlabisa, sê die party is ook nie ten gunste van die Ministerie van Elektrisiteit nie omdat dit bydra tot ‘n opgeblase kabinet.

“Ons hoop dat hy ‘n ondersteunende rol sal speel in die hantering van beurtkrag, maar wat Ramaphosa eintlik moes gedoen het, is om Eskom te versterk met die nodige mannekrag om 'n einde aan beurtkrag te bring,” het hy aan eNCA gesê.

'Dieselfde vrot appels rondgeskuif'

Die leier van Build One SA, Mmusi Maimane, sê “dieselfde vrot appels is van een pos na 'n ander verskuif – die teenoorgestelde van wat nodig was in 'n tyd van sosio-ekonomiese krisis”.

Hy sê die opgeblase kabinet sal die laste op die belastingbetalers verhoog. “Die blou ligte, die sekuriteit en die huise, insluitend kragopwekkers sodat hulle nie beurtkrag ervaar nie.”

Die leier van die African Transformation Movement, Vuyolwethu Zungula, het Ramaphosa gekritiseer omdat hy nie die “morele gesag het om die kabinet te verander nie”.

“Dit word vir sy eie eng belang gedoen. Ons het 'n departement van openbare ondernemings wat misluk. Daar word niks gesê en gedoen oor daardie minister nie. Hy gebruik sy posisie vir eie gewin,” het hy aan eNCA gesê.

Die president van ActionSA, Herman Mashaba, sê die langverwagte kabinetskommeling toon “gebrek aan talent in die regerende party”.

Kabinetskommeling sien só daar uit:

President Ramaphosa het die volgende veranderinge aan sy kabinet aangebring:

Adjunkpresident van Suid-Afrika: Paul Mashatile;

Minister in die Presidensie: Khumbudzo Ntshavheni;

Minister in die Presidensie verantwoordelik vir vroue, jeug en mense met gestremdhede: Nkosazana Dlamini Zuma;

Minister in die Presidensie verantwoordelik vir beplanning, monitering en evaluering: Maropene Ramokgopa;

Minister in die Presidensie verantwoordelik vir elektrisiteit: Kgosientsho Ramokgopa;

Minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie: Mondli Gungubele;

Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake: Thembi Nkadimeng;

Minister van Staatsdiens en Administrasie: Noxolo Kiviet;

Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur: Sihle Zikalala;

Minister van Sport, Kuns en Kultuur: Zizi Kodwa;

Minister van Toerisme: Patricia de Lille;

Minister van Vervoer: Sindisiwe Chikunga.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.