South Africa
Haastig ontplooide grenswagte maak AfriForum bekommerd─── 15:17 Tue, 14 Mar 2023

AfriForum is besorg oor die aktiwiteite van die sogenaamde grenswagte wat deur die Grensbestuursowerheid (GBO) ontplooi is.
Die burgerregte-organisasie het ’n versoek ingevolge die Wet op Openbare Toegang tot Inligting (PAIA) by die Departement van Binnelandse Sake ingedien waarin besonderhede oor die wagte se suksesse versoek word.
Die GBO-wagte is onlangs inderhaas onder twyfelagtige omstandighede ontplooi. AfriForum het kort daarna die GBO ingelig dat die ontplooiing van dié wagte onwettig is, aangesien die betrokke wetgewing nog nie in die Staatskoerant gepubliseer is nie.
Die GBO-wagte is nietemin na verskeie grensgebiede ontplooi en aktief besig om voertuie voor te keer en te deursoek. Vuurwapens is ook aan hulle uitgereik. Die wetgewing is toe stilletjies in die Staatskoerant gepubliseer.
AfriForum het ook kommer uitgespreek oor die wagte se oorhaastige opleiding asook die wyse waarop die wagte gewerf is.
In sy PAIA-aansoek vra AfriForum die volgende inligting aan:
• Die rekords wat die aantal arrestasies van verdagtes aandui wat deur die GBO-wagte by alle grensbeheerpunte gemaak is, insluitend die datums van arrestasies.
• Die rekords wat die aantal ongedokumenteerde migrante aandui wat deur die GBO by alle grensbeheerpunte onderskep is, insluitend die datums van hierdie onderskeppings.
• Die rekords wat die aantal gesteelde voertuie, vee, vuurwapens en ammunisie aandui — asook dít wat teruggevind is — wat deur die GBO by alle grensbeheerpunte onderskep is, insluitend die datums waarop beslag gelê is op items.
• Die rekords wat die aantal keuringslêers aandui wat verwys is teenoor die aantal keuringslêers wat voltooi is van GBO-werknemers sedert die ontstaan daarvan.
• Die rekords wat die aantal GBO-wagte aandui wat vuurwapenbevoegdheid voltooi het.
“Die gebrek aan grensbeheer in Suid-Afrika is ’n groot bydraende faktor tot misdaad nasionaal … veral grensgemeenskappe trek die swaarste as gevolg van hierdie wetteloosheid,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid.
“Dis ’n ernstige kwessie wat ernstige oplossings kort en nie een of ander publisiteitsfoefie van die GBO deur ongekwalifiseerde, swak opgeleide en ongekeurde wagte te ontplooi nie,”
Hy beweer baie van die grenswagte maak hulle skuldig aan korrupsie en omkopery, “’n situasie wat vermy kon (geword het) as die nodige prosesse gevolg is toe hierdie wagte verkry en gekeur is.”