On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan OFM
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

South Africa

‘MRK-verslag is oorwinning vir Afrikaans’ – VF Plus

───   17:41 Wed, 15 Mar 2023

‘MRK-verslag is oorwinning vir Afrikaans’ – VF Plus  | News Article

Die uitspraak van die menseregtekommissie oor die klag wat die VF Plus ingedien het oor die verbod op die praat van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch is ’n groot oorwinning vir Afrikaans, sê die party.

Die VF Plus het die klag in 2021 ingedien. Die MRK het sy verslag Woensdag 15 Maart bekend gemaak, en het onder meer beveel dat die US studente skriftelik om verskoning vra.

Die gebruik van Afrikaans is verbied onder eerstejaarstudente by die universiteit, selfs in persoonlike gesprekke.

'Gesloer met verslag skep toksiese omgewing'

“Die Afrikaanse kwessie het weer vanjaar by die US opgevlam, wat die vraag laat ontstaan het waarom die MRK so lank sloer met die verslag aangesien dit toegelaat het dat ’n toksiese omgewing by die instelling geskep word,” sê Heloïse Denner, VF Plus-LP en woordvoerder oor kuns en kultuur.

“Die skuld vir die gebeure van 2021 en daarna word vierkantig op die bestuur van die US geplaas.”

'US moet studente om verskoning vra'

Die universiteit is beveel om deur die kantoor van die rektor en vise-kanselier, prof. Wim de Villiers, om verskoning te vra aan alle studente wat geraak is.

Die MRK gee in sy bevinding onder meer erkenning aan die belangrikheid van persoonlike identiteit in gemeenskapsidentiteit asook aan die regte van tale anders as Engels.

In sy uitspraak het die MRK 'n Kanadese hofuitspraak as riglyn voorgehou wat bepaal dat taal meer as 'n blote medium vir oordrag van inligting en gedagtes is: Dit is 'n uitdrukking van 'n mens se hele kultuur.

“Om daarom te verwag dat nuwelingstudente ongeag hul moedertaal slegs in Engels ontvang word en slegs Engels mag praat, misken dit.”

Terwyl die MRK insluiting of inklusiwiteit as 'n edele gedagte bestempel, is dit volgens sy verslag nie 'n wetlike of grondwetlike vereiste dat elke instelling en sosiale situasie almal moet insluit of akkommodeer nie.

'Persoonlike identiteit is in groepsidentiteit geanker'

“Hierdie uitspraak bring Suid-Afrika nader aan die internasionale norm waar die menseregtekultuur gerig word deur die erkenning dat persoonlike identiteit in groepsidentiteit geanker is,” sê Denner.

Aanbevelings uit die MRK-verslag sluit in:

• Daar moet kwartaalliks aan die MRK verslag gedoen word oor onder meer taalverwante klagte- en diskriminasie en wat die universiteit daaraan doen;

• Skriftelike opdrag moet aan koshuise gegee word om nie weer ’n beleid van slegs Engels toe te pas nie;

• ’n Bedrag van R5 miljoen moet bewillig word vir ’n verpligte program oor die diversiteit en sensitiwiteit vir alle studente en personeel van die universiteit;

• ’n Module oor menseregte wat fokus op menswaardigheid, gelykheid en vryheid van uitdrukking, taal en kultuur, moet geskep word vir eerstejaars. Dit moet reeds in 2024 in werking tree;

• Die module en program moet in Afrikaans, Engels en isiXhosa aangebied word en die MRK moet dit goedkeur.

Luidens die verslag het prof. De Villiers in sy reaksie gesê wat gebeur het, was nie universiteitsbeleid nie. Hy het nogtans erken dat hy bewus was van die opdrag om Afrikaans in die verwelkomingtydperk te verbied.

Volgens die MRK kan die beleid wat koshuise toepas, nie geskei word van universiteitsbeleid nie. Die US kan hom daarom nie distansieer van dit wat mét sy wete in die koshuise gebeur het nie.

Die MRK noem voorts hy is bekommerd daaroor dat die US taal net sien as ’n medium om te kommunikeer of ’n instrument om ander uit te sluit.

“Wat by die US gebeur het, het die Afrikaanssprekende studente se menswaardigheid, selfbeeld en kultuurverbintenis aangetas,” sê Denner.

“Die VF Plus verwelkom hierdie bevinding. Dit lê oplaas duidelike riglyne neer oor die inbreuk wat gedwonge inklusiwiteit maak op die basiese menseregte van minderheidsgroepe. Suid-Afrika is ’n land van vele tale, kulture en gelowe. Hierdie diversiteit moet omarm word om eenheid te bewerkstellig.”

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.