On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

EFF-staking: Wetstoepassers skut honderde motorbande

───   15:04 Fri, 17 Mar 2023

EFF-staking: Wetstoepassers skut honderde motorbande | News Article
FOTO: Wetstoepassers van die Stad Kaapstad/news24

Wetstoepassers van die Stad Kaapstad het honderde motorbande verwyder wat strategies regoor die stad geplaas is, na bewering voor die EFF se beplande landwye staking Maandag.

Die EFF organiseer optogte oor die land heen om teen beurtkrag te betoog. President Cyril Ramaphosa se bedanking word ook geëis.

Wetstoepassers van die Stad Kaapstad se woordvoerder, Wayne Dyason, het gesê beamptes het honderde motorbande in gebiede soos Ou Strandfonteinweg, Baden Powellrylaan, Viking Way in Epping, en Parkwood in Grassy Park versamel.

“Beamptes het sedert Dinsdag honderde motorbande opgelaai. [Ons] is bewus hiervan. Ons het patrollies gedoen op soek na bande wat op strategiese plekke geplaas is, oënskynlik om op die dag van die beplande nasionale stilstand te gebruik,” het Dyason bygevoeg.

Hy het volgens News24 gesê meer bande is weer by sommige plekke afgelaai nadat ander vroeër daar verwyder is.

“Ons vra lede van die publiek om ons oë en ore te wees en die storting van enige bande aan te meld,” het Dyason bygevoeg.

Vrydagoggend het wetstoepassers weer inligting opgevolg dat nog bande in sommige dele van die stad geplaas word.

In ’n Facebook-plasing het Veiligheid en Sekuriteit Mayco-lid, JP Smith, gesê dat daar teen 11:00 Vrydag al op 249 bande beslag gelê is. "Ons skut dit en sal ’n waardige doel vind om dit voor te skenk."

Die EFF het bewerings dat hy bande oral in Kaapstad opberg ten sterkste ontken.

“Ons dra glad nie kennis hiervan nie. Daar is geen bewys dat die bande aan die EFF behoort nie. Wat as daardie bande verkoop word deur mense wat geld wil maak?” het Wandile Kasibe, Wes-Kaapse EFF-woordvoerder, gevra. “Die bande is nie rooi nie en nie met die EFF-naam gebrandmerk nie, so daar is geen manier dat ons mense daardie bande rondom Kaapstad geplaas het nie.”

Hy het gesê die bande kan aan skrootwerwe of mense behoort wat bande verkoop.

Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagan Allen, het gesê “dit is waarskynlik dat dit in die Maandag-betoging gebruik kan word om paaie te versper. 

“Die bande word nou gestort aangesien dit moeilik vir stakers kan wees om bande na dié gebiede te vervoer,” het Allen gesê.

Intussen het die Stad se Stedelike Mobiliteit-afdeling Kapenaars verseker dat die MyCiTi-busdiens beplan om Maandag normaal te funksioneer.

Oor die beplande stilstand het die Stad gesê die reg om te betoog vervang nie die reg op vryheid van beweging, die reg om te beweeg sonder vrees vir teistering en intimidasie, en die reg om ’n bestaan te maak nie.

“Ons sal nie geïntimideer word om op te tree teen enigiemand wat tydens die betoging gewelddadige gedrag openbaar nie. Ons sal alle roetes monitor om te verseker dat openbare vervoer fyn dopgehou word.

“Die Stad sal nie boewe se gedrag op die dag duld nie, en alle nodige voorsorgmaatreëls sal getref word om die veiligheid van pendelaars en ander operateurs sover moontlik te verseker.

“Ons weier om geboelie te word om nie dienste te lewer aan diegene wat bloot wil gaan werk om kos op hul families se tafels te sit nie, en ons wil graag hê dit moet dien as ’n herinnering aan diegene wat beplan om Maandag te betoog dat geweld wat skade aan openbare en private eiendom tot gevolg het, nie ’n wettige staking is nie. Dit sal gesien word vir wat dit is, oproerig en krimineel,” lui die Stad Kaapstad se verklaring.

Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het vroeër gewaarsku dat die polisie Maandag op ’n hoë gereedheidsgrondslag sal wees.

“Enige optrede in die oortreding van die wet sal dienooreenkomstig hanteer word. Ons doen ’n beroep op lede van die publiek om hulle daarvan te weerhou om boodskappe te [stuur] wat poog om burgers te mobiliseer om by hierdie beplande betogings aan te sluit.

“Ons sal geen wetteloosheid en dade van misdadigheid duld nie. As daar gevind word dat mense enige private of openbare eiendom plunder of [vernietig], sal hulle dienooreenkomstig hanteer word, binne die bestek van die wet,” het Mathe gesê.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.